Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 9:7-16 Bybel vir Almal (ABA)

7. Julle moenie vergeet nie, julle moet onthou dat julle vir julle God die Here kwaad gemaak het in die woestyn. Julle was opstandig teen die Here, van daardie dag af toe julle uit die land Egipte gekom het totdat julle op hierdie plek aangekom het.

8. By Horeb-berg het julle die Here kwaad gemaak, en Hy was so kwaad dat Hy julle almal wou doodmaak.

9. Ek het teen die berg opgegaan om die plat klippe te kry, die klippe waarop die Here die verbond geskryf het wat Hy met julle gemaak het. Ek het 40 dae en 40 nagte lank op die berg gebly, en ek het niks geëet of gedrink nie.

10. Die Here het die twee plat klippe vir my gegee. Die vinger van God het alles op die klippe geskryf, alles wat die Here vir julle op die berg uit die vuur gesê het toe julle daar bymekaar was.

11. Ná die 40 dae en 40 nagte het die Here die twee plat klippe vir my gegee, die klippe waarop Hy die verbond geskryf het.

12. En die Here het vir my gesê: ‘Jy moet gereedmaak en vinnig afgaan, want jou volk wat jy uit Egipte gebring het, het ’n slegte ding gedoen. Hulle het gou opgehou om te lewe soos Ek vir hulle gesê het, hulle het vir hulle ’n beeld gemaak.’

13. “Die Here het ook vir my gesê: ‘Ek het na hierdie volk gekyk, Ek het gesien dat hulle ’n hardkoppige volk is, jy moet dit weet.

14. Jy moet My los, Ek wil hulle almal doodmaak sodat niemand op die aarde hulle naam sal onthou nie. Dan sal Ek jou nageslag ’n volk maak wat sterker en meer is as hulle.’

15. “Ek het teruggegaan en ek het afgekom van die berg. Die berg het gebrand, en ek het die twee plat klippe in my hande gehou, die klippe waarop die verbond geskryf was.

16. Ek het gekyk en toe sien ek julle hét die sonde gedoen teen julle God die Here. Julle hét vir julle ’n kalfbeeld gemaak, julle hét gou opgehou om te lewe soos die Here vir julle gesê het.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 9