Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 28:12-29 Bybel vir Almal (ABA)

12. Die Here sal sy stoorkamer oopmaak waar Hy die goeie dinge bêre, en Hy sal vir julle reën gee op die regte tyd sodat dit goed sal gaan met alles wat julle doen. Julle sal geld en goed kan leen vir mense van baie volke, maar julleself sal nie iets moet leen nie.

13. As julle gehoorsaam is aan die wette van julle God die Here en as julle aanhou om te doen wat ek vandag vir julle sê, dan sal die Here sê julle is die kop, nie die stert nie. Julle sal altyd bo wees, nie onder nie.

14. Maar dan moet julle aanhou om alles te doen wat ek vandag vir julle sê, julle moenie ander gode dien nie.

15. “Maar as julle ongehoorsaam is aan julle God die Here en as julle ophou om te doen wat sy wette sê, die wette wat ek vandag vir julle gee, dan sal die Here dit altyd sleg laat gaan met julle.

16. Dit sal sleg gaan in die stad en dit sal sleg gaan in die veld.

17. Julle kosmandjies en julle brood-skottels sal altyd leeg wees.

18. Julle en julle grond sal nie vrugbaar wees nie, daar sal min kalwers en lammers wees.

19. Dit sal sleg gaan met julle oral waar julle gaan.

20. As julle weggaan van die Here en as julle aanhou om slegte dinge te doen, dan sal Hy dit sleg laat gaan met julle. Julle sal nie vrede hê nie, julle sal bang wees. Dit sal aanhou totdat julle almal gesterf het, julle sal gou verdwyn.

21. Die Here sal julle siek maak, julle sal pes kry. Dit sal aanhou totdat julle almal gesterf het in die land waarnatoe julle gaan om dit vir julleself te vat.

22. Die Here sal julle siek maak, julle sal tering en koors kry, julle sal sere kry en opswel. Dit sal baie warm en droog word, daar sal siektes in die koring kom, en dit sal aanhou totdat julle almal gesterf het.

23. Die hemeldak bo julle sal soos ’n brons dak word, en die aarde onder julle sal so hard soos yster word.

24. Die Here sal die reën van julle land soos poeier laat word, daar sal stof uit die lug val totdat julle almal gesterf het.

25. Die Here sal julle laat verloor teen julle vyande. Julle sal op een pad gaan om hulle aan te val, maar julle sal op sewe paaie wegvlug van hulle. Al die lande op die aarde sal bang word wanneer hulle kyk na julle.

26. Die voëls en die wilde diere sal julle lyke vreet, en niemand sal hulle wegjaag nie.

27. Die Here sal julle siek laat word van sere, soos in Egipte. Julle sal swere en aambeie kry, julle vel sal skurf word en jeuk en julle sal nie gesond word nie.

28. Die Here sal julle mal en blind en deurmekaar laat word.

29. Julle sal soos blinde mense wees, in die dag sal julle oral voel waar julle moet loop, soos mense in die donker, maar julle sal nie die regte pad kry nie. Mense sal julle laat swaarkry, hulle sal julle goed steel, en niemand sal julle help nie.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 28