Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 28:1-13 Bybel vir Almal (ABA)

1. Moses het gesê: “As julle waarlik gehoorsaam is aan julle God die Here, as julle alles doen wat sy wette sê wat ek vandag vir julle gee, dan sal julle God die Here vir julle die belangrikste volk op die aarde maak.

2. As julle gehoorsaam is aan julle God die Here, dan sal Hy aanhou om julle te seën:

3. Hy sal julle seën in die stad en in die veld.

4. Hy sal julle vrugbaar maak en ook julle grond en julle diere, daar sal baie kalwers en lammers wees.

5. Julle mandjies en julle brood-skottels sal altyd vol kos wees.

6. Die Here sal julle seën oral waar julle gaan.

7. Hy sal julle vyande laat verloor wanneer hulle vir julle aanval. Hulle sal op een pad kom om julle aan te val, maar hulle sal op sewe paaie wegvlug van julle.

8. Die Here sal julle stoorkamers vol laat word, dit sal goed gaan met alles wat julle doen. Julle God die Here sal julle seën in die land wat Hy vir julle gee.

9. As julle doen wat die Here wil hê en as julle lewe soos Hy sê, dan sal Hy vir julle sy gewyde volk maak, Hy het dit belowe.

10. Al die volke op die aarde sal sien dat julle aan die Here behoort, en hulle sal bang wees vir julle.

11. Die Here sal dit baie goed laat gaan met julle. Julle en julle diere en julle grond sal vrugbaar wees in hierdie land, Hy het vir julle voorvaders belowe om die land vir julle te gee.

12. Die Here sal sy stoorkamer oopmaak waar Hy die goeie dinge bêre, en Hy sal vir julle reën gee op die regte tyd sodat dit goed sal gaan met alles wat julle doen. Julle sal geld en goed kan leen vir mense van baie volke, maar julleself sal nie iets moet leen nie.

13. As julle gehoorsaam is aan die wette van julle God die Here en as julle aanhou om te doen wat ek vandag vir julle sê, dan sal die Here sê julle is die kop, nie die stert nie. Julle sal altyd bo wees, nie onder nie.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 28