Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 24:5-16 Bybel vir Almal (ABA)

5. “Wanneer ’n man die eerste maal getrou het met ’n vrou, dan mag hy nie saam met die leër gaan om oorlog te maak nie. Hy moet niks anders doen nie, hy mag ’n jaar lank by die huis bly en gelukkig wees met die vrou met wie hy getrou het.

6. “Jy mag nie iemand se maalklippe of die boonste klip van sy koringmeul vat wanneer hy geld vir jou skuld nie.

7. “Julle vang miskien iemand wat ’n ander Israeliet steel en wat hom ’n slaaf maak en hom verkoop. Daardie dief moet dan sterf. Julle mag nie saam met hom skuldig wees nie.

8. “Julle moet versigtig wees wanneer iemand melaats is, julle moet alles doen wat die priesters uit die nageslag van Levi vir julle sê, julle moet doen soos ek vir hulle gesê het.

9. Julle moet onthou wat julle God die Here met Mirjam gedoen het toe julle uit Egipte gekom het.

10. “Wanneer jy vir iemand iets leen, dan mag jy nie in sy huis ingaan om iets te vat omdat hy die geld vir jou skuld nie.

11. Jy moet buite wag, die man wat geld van jou geleen het, moet vir jou iets buitetoe bring omdat hy geld vir jou skuld.

12. As hy ’n baie arm mens is, en jy het sy bo-kleed gevat omdat hy die geld vir jou skuld, dan mag jy nie in sy bo-kleed slaap nie.

13. Jy moet sy bo-kleed teruggee wanneer die son ondergaan sodat hy daarin kan slaap en sodat hy jou kan seën. Jou God die Here sal dan tevrede wees dat jy reg doen.

14. “Jy mag nie die beloning hou wat ’n dagloner moet kry nie, dit maak nie saak of dit ’n arm Israeliet is wat niks het nie, of ’n vreemdeling wat in jou land woon in een van jou stede nie.

15. Jy moet sy beloning elke dag gee voordat die son ondergaan, want hy is arm en hy moet die geld gebruik om te lewe. As jy dit nie doen nie, dan sal hy tot die Here bid, en die Here sal jou straf oor daardie sonde.

16. “Julle mag nie ’n pa doodmaak omdat sy kind verkeerd gedoen het nie, en julle mag nie kinders doodmaak omdat hulle pa iets verkeerd gedoen het nie. Elkeen moet sterf oor dit wat hyself verkeerd gedoen het.”

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 24