Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 2:3-14 Bybel vir Almal (ABA)

3. ‘Julle het nou lank genoeg om hierdie berge geloop, julle moet nou draai en noord gaan.

4. Jy moet vir die volk sê: Julle gaan nou deur die land van mense wat familie is van julle, die nageslag van Esau. Hulle woon in die land Seïr. Hulle is bang vir julle. Julle moet baie versigtig wees,

5. julle moenie teen hulle oorlog maak nie, want Ek sal nie vir julle van hulle grond gee nie, niks nie. Ek het die Seïr-berge vir Esau gegee.

6. Julle moet die kos wat julle eet, by hulle koop, en ook die water wat julle sal drink.’

7. “Julle God die Here het dit goed laat gaan met alles wat julle gedoen het, Hy het vir julle gesorg in hierdie groot woestyn. Julle God die Here was altyd by julle hierdie 40 jaar, julle het genoeg gehad van alles.

8. “Ons het toe verby ons familie gegaan, verby die nageslag van Esau wat in die land Seïr woon. Ons het by die stad Elat, dit is Esjon-Geber, gekom. Toe het ons op die pad deur die Jordaan-vallei gegaan, en ons het deur die woestyn geloop na die land Moab.”

9. “Maar die Here het vir my gesê: ‘Julle moenie die mense van Moab aanval nie, julle moenie oorlog maak teen hulle nie, want Ek sal nie ’n stuk van hulle land vir julle gee nie. Ek het die land Ar vir die nageslag van Lot gegee.’ ”

10. “Die Emiete het voorheen in die land Moab gewoon. Hulle was ’n groot en sterk volk en hulle was so lank soos die Enak-mense.

11. Hulle was ook Refaïete soos die Enak-mense, maar die Moabiete het hulle Emiete genoem.

12. Die Goriete het voorheen in die land Seïr gewoon, maar die nageslag van Esau het hulle oorwin en doodgemaak en het in hulle plek gaan woon. Die Israeliete het dieselfde gedoen met hulle vyande in die land wat die Here vir hulle gegee het.”

13. “Die Here het gesê: ‘Nou moet julle deur die Sered-vallei gaan.’“Ons het deur die Sered-vallei gegaan.

14. Dit was 38 jaar nadat ons weggegaan het van die stad Kades-Barnea. Een hele geslag van manne wat daardie tyd oorlog kon maak, was toe al dood. Dit het gebeur soos die Here vir hulle gesê het.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 2