Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 2:23-37 Bybel vir Almal (ABA)

23. Dieselfde het gebeur met die Awwiete wat voorheen in klein dorpies gewoon het naby die stad Gasa. Die Kaftor-mense het van die eiland Kaftor gekom. Hulle het die Awwiete doodgemaak en in hulle plek gaan woon.”

24. “Die Here het gesê: ‘Julle moet gereedmaak en verder gaan. Gaan deur die Arnon-vallei. Onthou, Ek het Sihon, koning van die Amoriete in die stad Gesbon, en sy land vir julle gegee. Julle moet begin oorlog maak teen hom en julle moet sy land vat.

25. Ek begin vandag om al die volke in die wêreld bang te laat word vir julle. Wanneer hulle hoor van julle, dan sal hulle skrik en bewe.’ ”

26. “Ek het boodskappers uit die Kedemot-woestyn gestuur na koning Sihon toe in Gesbon, ek wou vrede maak met hom.

27. Ek het gesê: ‘Ons wil deur jou land gaan. Ons sal op die pad bly, ons sal nie regs of links draai nie.

28-29. Jy kan kos en water aan ons verkoop om te eet en te drink. Jy moet net sê dat ons deur jou land mag loop totdat ons deur die Jordaan-rivier kan gaan na die land wat ons God die Here vir ons gee. Die nageslag van Esau wat in die land Seïr woon en die Moabiete wat in die land Ar woon, het gesê ons mag deur hulle lande loop.’

30. “Maar koning Sihon van Gesbon het gesê ons mag nie deur sy land gaan nie, want julle God die Here het hom hardkoppig gemaak. Die Here wou julle laat wen teen Sihon, en julle woon nou nog in sy land.

31. Die Here het vir my gesê: ‘Onthou, Ek begin nou om Sihon en sy land vir julle te gee. Julle moet nou sy land vir julleself vat.’

32. “Sihon en al sy manne het gekom om ons aan te val. Die oorlog was by die stad Jahas.

33. Ons God die Here het ons laat wen teen Sihon. Ons het hom en sy seun en al sy mense oorwin.

34. Ons het toe al sy stede gevat en ons het almal in elke stad doodgemaak, al die mans, vroue en kinders. Ons het niemand vry laat wegkom nie.

35. Ons het net die beeste vir onsself gevat en ook al die goed in die stede waar ons die mense oorwin het.

36. Daar was nie ’n stad wat te sterk was vir ons nie. Ons God die Here het alles vir ons gegee, van die stad Aroër op die kant van die Arnon-vallei en die stad in die vallei, tot by die land Gilead.

37. Maar julle het nie naby die Ammoniete se land gekom nie, dit is die hele kant van die Jabbok-vallei en die stede in die berge, alles wat die Here gesê het.”

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 2