Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 16:1-14 Bybel vir Almal (ABA)

1. Moses het gesê: “Jy moet die maand Abib onthou. Jy moet die Paasfees vir jou God die Here vier, want jou God die Here het julle in die maand Abib uit Egipte gebring, in die nag.

2. Jy moet ’n Paasfees-offer vir jou God die Here bring, jy moet ’n skaap of ’n bok of ’n bees slag op die plek wat die Here sal kies waar julle Hom moet aanbid.

3. Jy moenie suurdeeg eet saam met die Paasfees-offer se vleis nie. Jy moet sewe dae lank ongesuurde brood eet saam met die vleis. Hierdie brood sal jou laat onthou dat julle swaargekry het toe julle vinnig uit die land Egipte moes gaan. So moet jy altyd die dag onthou toe julle uit Egipte gegaan het.

4. Daar moet sewe dae lank niks suurdeeg in julle hele land wees nie. En daar mag nie van die vleis oorbly tot die volgende oggend nie, die vleis wat jy die aand van die eerste dag ge-offer het.

5. Jy mag ook nie die Paasfees-offer bring in een van die woonplekke wat julle God die Here vir julle gee nie.

6. Nee, jy moet die Paasfees-offer gaan offer op die plek wat jou God die Here sal kies sodat julle Hom daar kan aanbid. Jy moet dit in die aand doen wanneer die son ondergaan. Dit was die tyd toe julle weggegaan het uit Egipte.

7. Jy moet die vleis gaarmaak en eet op die plek wat jou God die Here sal kies. Die volgende oggend moet jy dan teruggaan na jou tent.

8. Dan moet julle ses dae lank ongesuurde brood eet, en die sewende dag moet ’n gewyde feesdag wees vir julle God die Here. Dan mag julle nie werk doen nie.”

9. “Jy moet sewe weke tel van die dag wanneer julle begin om die koring af te sny met die sekel.

10. Dan moet julle die Fees van die Weke vier vir jou God die Here. Jy moet self besluit hoeveel offers jy wil bring omdat jou God die Here jou geseën het.

11. Julle moet feesvier voor julle God die Here op die plek wat Hy sal kies sodat julle Hom daar kan aanbid, julle en julle kinders, en julle slawe en slavinne, en die vreemdelinge en weeskinders en weduwees wat by julle woon.

12. Julle moet onthou dat julle ook slawe was in die land Egipte en julle moet doen wat hierdie wette sê.”

13. “Wanneer julle klaar koring getrap het op die dorsvloer en klaar wyn gemaak het in die parskuip, dan moet julle die Hutte-fees sewe dae lank vier.

14. Julle moet saam feesvier, julle en julle kinders, en julle slawe en slavinne, en die vreemdelinge en weeskinders en weduwees wat by julle woon.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 16