Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 15:10-23 Bybel vir Almal (ABA)

10. Julle moet graag gee en julle moenie ontevrede wees wanneer julle gee nie, want as jy graag gee, dan sal jou God die Here dit goed laat gaan met jou, met alles wat jy doen.

11. Daar sal altyd arm mense in die land wees. Daarom sê ek vir julle dat julle graag moet gee vir die mense wat hulleself nie kan help nie, vir die arm mense in die land.”

12. “Wanneer ’n ander Israeliet, ’n Hebreeuse man of vrou, homself aan jou verkoop het, en hy het ses jaar lank vir jou gewerk, dan moet jy hom in die sewende jaar vry laat weggaan.

13. En wanneer jy hom vry laat weggaan, dan moet jy vir hom iets gee wanneer hy weggaan.

14. Jy moet vir hom genoeg gee van jou skape en bokke en van jou koring en jou wyn, jy moet vir hom gee van die dinge wat jy het omdat jou God die Here jou geseën het.

15. Jy moet onthou dat jy ’n slaaf was in die land Egipte, en dat jou God die Here jou losgekoop het. Dit is hoekom ek vandag dit vir jou sê.

16. Maar miskien sal die slaaf vir jou sê hy wil nie weggaan van jou nie, want hy is lief vir jou en jou huisgesin en hy woon lekker by jou.

17. Dan moet jy ’n els neem en jy moet dit deur sy oor in die deur steek. Hy sal dan altyd jou slaaf wees. Jy moet dieselfde doen met jou slavin.

18. Dit moenie vir jou swaar wees wanneer jy hierdie slaaf vry laat weggaan nie, want as jy hom nie gehad het nie, dan moes jy ses jaar lank twee maal soveel dagloners gehuur het. As jy dit doen, dan sal jou God die Here dit goed laat gaan met alles wat jy doen.”

19. “Jy moet elke eerste bul-kalf en ram-lam wat jy kry, aan julle God die Here wy. Jy mag nie ’n eerste bul-kalf laat werk nie en jy mag nie ’n eerste ram-lam se wol afskeer nie.

20. Jy moet elke jaar die eerste kalf en die eerste lam gaan eet op die plek wat die Here sal kies, jy en jou huisgesin.

21. Maar as daar iets verkeerd is met die kalf of die lam, as hy gebreklik of blind is of as daar ’n ander fout is, dan moet jy hom nie offer vir jou God die Here nie.

22. Jy mag so ’n dier se vleis eet daar waar jy woon. Rein én onrein mense mag dit eet, soos hulle die vleis van ’n gasel of ’n takbok mag eet.

23. Maar jy mag nie die bloed van die dier eet nie. Jy moet die bloed op die grond uitgooi soos water.”

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 15