hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34

Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 15 Bybel vir Almal (ABA)

Die Israeliete moet elke sewende jaar sê dat mense die geld mag hou wat hulle skuld

1. Moses het gesê: “Julle moet elke sewende jaar sê dat mense die geld mag hou wat hulle vir julle skuld, hulle moenie die geld terugbetaal nie.

2. Dit beteken: Almal wat vir mense geld geleen het, mag nie vra dat mense dit moet terugbetaal nie. Hulle mag nie sê ’n ander Israeliet moet sy skuld betaal nie, want dit is die Here wat besluit het dat dit elke sewende jaar so moet gebeur.

3. Julle mag vir mense wat nie Israeliete is nie, sê hulle móét betaal, maar vir ander Israeliete moet julle sê hulle mag die geld hou, hulle moenie die geld terugbetaal wat hulle vir julle skuld nie.

4. Die Here sal julle seën in die land wat julle God die Here vir julle sal gee, julle eie land wat julle vir julleself moet vat. Daarom sal daar nie arm mense by julle wees nie, dit is seker.

5. Maar dan moet julle baie gehoorsaam wees en luister na wat julle God die Here sê. Julle moet doen wat al hierdie wette sê wat ek vandag vir julle gee.

6. Wanneer julle God die Here julle seën, soos Hy vir julle belowe het, dan sal julle vir die mense van baie volke geld kan leen, maar julle sal nie self geld moet leen nie, julle sal genoeg hê. Julle sal oor baie ander volke regeer, en hulle sal nie oor julle regeer nie.

7. In die woonplekke in die land wat julle God die Here vir julle gee, sal daar miskien party van julle eie mense wees wat arm is. Dan moet julle vir hulle help, julle harte moenie hard wees en julle hande moenie toe wees vir julle arm naaste nie.

8. Nee, julle moet graag gee, julle moet vir so iemand alles leen wat hy moet hê.

9. Jy mag nie onvriendelik wees met jou naaste en niks vir hom wil leen nie omdat die sewende jaar naby is, die jaar wanneer jy moet sê dat mense wat vir julle geld skuld, dit mag hou. Iemand wat dit doen, doen ’n verkeerde ding. Want as jy nie vir hom wil help nie, dan sal hy miskien vir die Hére vra om hom te help, en jy sal skuldig wees omdat jy verkeerd gedoen het.

10. Julle moet graag gee en julle moenie ontevrede wees wanneer julle gee nie, want as jy graag gee, dan sal jou God die Here dit goed laat gaan met jou, met alles wat jy doen.

11. Daar sal altyd arm mense in die land wees. Daarom sê ek vir julle dat julle graag moet gee vir die mense wat hulleself nie kan help nie, vir die arm mense in die land.”

Die Israeliete moet Hebreeuse slawe na ses jaar vry laat weggaan

12. “Wanneer ’n ander Israeliet, ’n Hebreeuse man of vrou, homself aan jou verkoop het, en hy het ses jaar lank vir jou gewerk, dan moet jy hom in die sewende jaar vry laat weggaan.

13. En wanneer jy hom vry laat weggaan, dan moet jy vir hom iets gee wanneer hy weggaan.

14. Jy moet vir hom genoeg gee van jou skape en bokke en van jou koring en jou wyn, jy moet vir hom gee van die dinge wat jy het omdat jou God die Here jou geseën het.

15. Jy moet onthou dat jy ’n slaaf was in die land Egipte, en dat jou God die Here jou losgekoop het. Dit is hoekom ek vandag dit vir jou sê.

16. Maar miskien sal die slaaf vir jou sê hy wil nie weggaan van jou nie, want hy is lief vir jou en jou huisgesin en hy woon lekker by jou.

17. Dan moet jy ’n els neem en jy moet dit deur sy oor in die deur steek. Hy sal dan altyd jou slaaf wees. Jy moet dieselfde doen met jou slavin.

18. Dit moenie vir jou swaar wees wanneer jy hierdie slaaf vry laat weggaan nie, want as jy hom nie gehad het nie, dan moes jy ses jaar lank twee maal soveel dagloners gehuur het. As jy dit doen, dan sal jou God die Here dit goed laat gaan met alles wat jy doen.”

Die Israeliete moet die eerste kalwers en lammers aan die Here wy

19. “Jy moet elke eerste bul-kalf en ram-lam wat jy kry, aan julle God die Here wy. Jy mag nie ’n eerste bul-kalf laat werk nie en jy mag nie ’n eerste ram-lam se wol afskeer nie.

20. Jy moet elke jaar die eerste kalf en die eerste lam gaan eet op die plek wat die Here sal kies, jy en jou huisgesin.

21. Maar as daar iets verkeerd is met die kalf of die lam, as hy gebreklik of blind is of as daar ’n ander fout is, dan moet jy hom nie offer vir jou God die Here nie.

22. Jy mag so ’n dier se vleis eet daar waar jy woon. Rein én onrein mense mag dit eet, soos hulle die vleis van ’n gasel of ’n takbok mag eet.

23. Maar jy mag nie die bloed van die dier eet nie. Jy moet die bloed op die grond uitgooi soos water.”