Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 13:1-13 Bybel vir Almal (ABA)

1. Moses het gesê: “Miskien sal een van julle mense sê hy is ’n profeet, en ’n ander persoon sal miskien sê hy weet wat drome beteken. Iemand sal miskien vir julle ’n teken wys of ’n wonderwerk doen.

2. Miskien sal die dinge gebeur wat hy gesê het toe hy die teken of die wonderwerk gedoen het, en hy sal dan sê: ‘Kom ons gaan dien ander gode,’ gode wat julle nie geken het nie.

3. Dan moet julle nie luister na daardie profeet of daardie persoon wat sê hy weet wat drome beteken nie, want dan is dit julle God die Here wat vir julle toets. Julle God die Here wil weet of julle lief is vir Hom met julle hele hart.

4. Julle moet altyd julle God die Here dien en eer. Julle moet Hom respekteer en doen wat sy wette sê, julle moet gehoorsaam wees aan Hom en Hom dien, julle moet lewe soos Hy wil hê.

5. Maar daardie profeet of daardie persoon wat sê hy weet wat drome beteken, moet sterf, want hy wou julle opstandig maak teen julle God die Here. En Hý is die God wat julle uit die land Egipte gebring het, Hý het julle losgekoop uit die land waar julle slawe was. Daardie persoon wou hê julle moet ophou lewe soos julle God die Here vir julle gesê het. Julle moet duidelik wys dat die ander Israeliete nie saam met hom skuldig is nie.

6. “Miskien sal jou eie broer of jou seun of jou dogter of jou vrou met wie jy getroud is of jou goeie vriend vir jou wil verlei. Daardie persoon sal saggies vir jou sê waar niemand anders dit kan hoor nie: ‘Kom ons gaan dien ander gode.’ Dit sal gode wees wat julle en julle voorvaders nie geken het nie,

7. gode van die volke wat rondom julle is, naby of ver, oral op die aarde.

8. Wanneer dit gebeur, dan moet julle nie doen wat daardie persoon wil hê nie. Julle moenie luister nie, julle moenie jammer wees vir so ’n persoon nie, julle moenie hom of haar vergewe en beskerm nie.

9. Julle moet so ’n persoon doodmaak, julle móét dit doen. Iemand wat die naaste aan hom is, moet begin om hom dood te maak, en die ander mense moet help.

10. Julle moet hom doodgooi met klippe, want hy het probeer om julle weg te lei van julle God die Here wat vir julle uit die land Egipte gebring het, die land waar julle slawe was.

11. Al die Israeliete moet hoor wat julle gedoen het en hulle moet bang word, sodat niemand weer so ’n slegte ding daar by julle sal doen nie.

12. “Miskien sal julle iets hoor in een van die stede wat julle God die Here vir julle gee om in te woon.

13. Julle sal miskien hoor dat slegte mense daar by julle die mense in hulle stad wou verlei en vir hulle gesê het: ‘Kom ons gaan dien ander gode,’ gode wat julle nie geken het nie.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 13