Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 12:17-32 Bybel vir Almal (ABA)

17. Julle mag ook nie by julle woonplekke die tiendes eet van julle koring, wyn en olyf-olie nie, ook nie die eerste kalwers en lammers, of die offers wat julle vir die Here belowe het, of die offers wat julle self wil bring, of die presente wat julle gee nie.

18. Julle moet dit gaan eet op die plek wat julle God die Here sal kies, julle moet dit doen saam met julle kinders, julle slawe en slavinne, en die Leviete wat by julle woon. Julle God die Here sal by julle wees. Julle moet daar feesvier met alles waarvoor julle gewerk het.

19. Julle moet onthou dat julle nooit die Leviete mag vergeet nie, so lank soos julle in die land lewe.

20. “Julle God die Here het belowe dat Hy julle land groter sal maak. Wanneer Hy dit doen, en julle wil vleis eet omdat julle honger is, dan mag julle enige tyd vleis eet.

21. Miskien is die plek ver van julle, die plek wat julle God die Here gekies het waar julle Hom moet aanbid. Dan mag julle van julle beeste of skape of bokke slag, maar julle moet dit doen soos ek vir julle gesê het. En dan mag julle daar by julle woonplekke die vleis eet wanneer julle wil.

22. Ja, julle mag hierdie vleis eet soos ’n mens die vleis van ’n gasel of ’n takbok eet. Mense wat rein is én mense wat onrein is, mag saam van die vleis eet.

23. Maar julle moet seker maak dat julle nie bloed eet nie, want die lewe is in die bloed, en julle mag nie die lewe eet saam met die vleis nie.

24. Julle moenie bloed eet nie, julle moet dit op die grond uitgooi soos ’n mens water uitgooi.

25. Julle moenie bloed eet nie, dan doen julle wat die Here wil hê, en dan sal dit goed gaan met julle en met julle kinders ná julle.

26. “Maar julle moet die gewyde presente wat julle wil gee en die offers wat julle belowe het, bring na die plek wat die Here sal kies.

27. Julle moet julle brand-offers, die vleis en die bloed, daar op die altaar van julle God die Here offer. Julle moet die bloed uitgooi teen die altaar van julle God die Here, en julle mag die vleis eet.

28. “Julle moet alles doen wat ek vandag vir julle sê. Dan sal dit altyd goed gaan met julle en met julle kinders ná julle, want dan doen julle goed en reg, soos die Here wil hê.

29. “Julle gaan om ander mense se land vir julleself te vat. Wanneer julle God die Here die mense van daardie land laat sterf, dan sal julle hulle land vat en daar gaan woon.

30. Dan moet julle versigtig wees dat julle nie soos ’n voël in ’n vangstrik val nie, want dit sal met julle gebeur as julle ook daardie mense se gode wil aanbid en julle vra: ‘Hoe het daardie mense hulle gode gedien? Ons wil ook so doen.’

31. “Julle moenie julle God die Here só dien nie, want daardie mense doen slegte dinge vir hulle gode, die Here hou nie daarvan nie. Hulle doen dinge wat Hy haat, ja, hulle verbrand ook hulle kinders vir hulle gode.

32. Julle moet alles doen wat ek vir julle sê, julle moet niks daarby sit en julle moet niks daarvan wegvat nie.”

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 12