Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 10:11-22 Bybel vir Almal (ABA)

11. Hy het vir my gesê: ‘Jy moet gereedmaak en jy moet verder gaan voor die volk sodat hulle die land kan gaan vat wat Ek vir hulle voorvaders belowe het om vir hulle te gee.’ ”

12-13. “En nou, Israeliete, wat wil julle God die Here hê julle moet doen? Hy vra dat julle Hom moet respekteer, dat julle moet lewe soos Hy wil hê, dat julle lief moet wees vir Hom, dat julle elke dag julle God die Here sal dien met julle hele hart, dat julle sal doen wat sy wette sê, die wette wat ek vandag vir julle gee. Julle God die Here vra niks meer van julle nie. As julle dit doen, dan sal dit goed gaan met julle.

14. Julle moet dit weet: Die hemel, die hoogste hemel, ook die aarde en alles daarop, behoort aan julle God die Here.

15. Maar die Here het gehou van julle voorvaders, Hy was lief vir hulle. Julle is hulle nageslag, en die Here het vir julle uit al die volke gekies om aan Hom te behoort, dit is vandag nog so.

16. “Julle moet met julle hele hart aan Hom behoort, julle moenie hardkoppig wees nie.

17. Want julle God die Here is die God van al die gode, Hy is die Koning van al die konings, Hy is die groot en magtige God, almal is bang vir Hom. Hy dink nie een mens is belangriker as ’n ander mens nie, Hy neem nie geld en dan oordeel Hy onregverdig nie.

18. Hy doen reg aan weeskinders en weduwees en Hy is lief vir vreemdelinge, Hy gee vir hulle kos en klere.

19. Julle moet ook lief wees vir vreemdelinge, want julle was vreemdelinge in die land Egipte.

20. Julle moet julle God die Here respekteer en Hom dien en naby Hom bly, en wanneer julle iets belowe, dan moet julle sê die Here is die getuie.

21. Julle moet die Here prys, Hy is julle God wat hierdie groot en wonderlike dinge vir julle gedoen het, dinge wat julle self sien.

22. Julle voorvader Jakob het net 70 mense saam met hom gehad toe hy na Egipte gegaan het, maar die Here het julle ’n groot volk laat word, julle is nou so baie soos die sterre in die lug.”

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 10