hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34

Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 10 Bybel vir Almal (ABA)

Die Here het weer die tien gebooie op twee plat klippe geskryf

1. Moses het gesê: “Die Here het in daardie tyd vir my gesê: ‘Jy moet twee plat klippe uitkap soos die eerste twee klippe wat Ek vir jou gegee het en dan moet jy opkom na My toe op die berg. En jy moet ’n kis maak van hout.

2. Ek sal op die plat klippe dieselfde woorde skryf wat op die eerste twee klippe was, die klippe wat jy gebreek het. Jy moet dan hierdie plat klippe in die kis sit.’

3. “Ek het toe ’n kis gemaak van doringhout, en ek het twee plat klippe uitgekap soos die eerste twee klippe. Ek het toe teen die berg opgegaan. Ek het die twee plat klippe in my hande gedra.

4. Die Here het dieselfde woorde op die plat klippe geskryf, dit was die tien gebooie wat die Here vir julle gegee het toe Hy gepraat het uit die vuur op die berg waar julle bymekaar was. Die Here het die plat klippe vir my gegee,

5. en ek het afgegaan van die berg. Ek het teruggegaan en ek het die klippe gesit in die kis wat ek gemaak het, soos die Here vir my gesê het. Die klippe is nog daar.

6. “Die Israeliete het van daardie plek, Beërot-Bene-Jakan, verder gegaan na Mosera. Aäron het daar gesterf, en ons het hom daar begrawe. Sy seun Eleasar het ná hom die priester geword.

7. Hulle het toe verder gegaan na Gudgoda en van Gudgoda na Jotbata. Jotbata is ’n plek waar daar baie water is.

8. “In daardie tyd het die Here die Levi-stam vir Hom geneem om die verbondskis van die Here te dra. Hulle moes Hom daar dien en vir Hom werk, en hulle moes sy Naam gebruik om die Israeliete te seën. Dit is nou nog so.

9. Daarom het die Levi-stam nie hulle eie grond gekry tussen die ander Israeliete nie. Die Here self sorg vir die Leviete, soos Hy vir hulle belowe het.

10. “Ek het 40 dae en 40 nagte op die berg gebly, soos voorheen, en ook hierdie maal het die Here gedoen wat ek gevra het, Hy het besluit om julle nie dood te maak nie.

11. Hy het vir my gesê: ‘Jy moet gereedmaak en jy moet verder gaan voor die volk sodat hulle die land kan gaan vat wat Ek vir hulle voorvaders belowe het om vir hulle te gee.’ ”

Die Israeliete moet die Here respekteer en lewe soos Hy wil hê

12-13. “En nou, Israeliete, wat wil julle God die Here hê julle moet doen? Hy vra dat julle Hom moet respekteer, dat julle moet lewe soos Hy wil hê, dat julle lief moet wees vir Hom, dat julle elke dag julle God die Here sal dien met julle hele hart, dat julle sal doen wat sy wette sê, die wette wat ek vandag vir julle gee. Julle God die Here vra niks meer van julle nie. As julle dit doen, dan sal dit goed gaan met julle.

14. Julle moet dit weet: Die hemel, die hoogste hemel, ook die aarde en alles daarop, behoort aan julle God die Here.

15. Maar die Here het gehou van julle voorvaders, Hy was lief vir hulle. Julle is hulle nageslag, en die Here het vir julle uit al die volke gekies om aan Hom te behoort, dit is vandag nog so.

16. “Julle moet met julle hele hart aan Hom behoort, julle moenie hardkoppig wees nie.

17. Want julle God die Here is die God van al die gode, Hy is die Koning van al die konings, Hy is die groot en magtige God, almal is bang vir Hom. Hy dink nie een mens is belangriker as ’n ander mens nie, Hy neem nie geld en dan oordeel Hy onregverdig nie.

18. Hy doen reg aan weeskinders en weduwees en Hy is lief vir vreemdelinge, Hy gee vir hulle kos en klere.

19. Julle moet ook lief wees vir vreemdelinge, want julle was vreemdelinge in die land Egipte.

20. Julle moet julle God die Here respekteer en Hom dien en naby Hom bly, en wanneer julle iets belowe, dan moet julle sê die Here is die getuie.

21. Julle moet die Here prys, Hy is julle God wat hierdie groot en wonderlike dinge vir julle gedoen het, dinge wat julle self sien.

22. Julle voorvader Jakob het net 70 mense saam met hom gehad toe hy na Egipte gegaan het, maar die Here het julle ’n groot volk laat word, julle is nou so baie soos die sterre in die lug.”