Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 1:35-46 Bybel vir Almal (ABA)

35. ‘Nie een van hierdie manne sal die goeie land sien wat Ek vir hulle voorvaders belowe het nie, niemand van hierdie slegte geslag nie. Dit is seker, so seker soos Ek lewe.

36. Net Kaleb seun van Jefunne sal die land sien. Ek sal vir hom en sy kinders die land gee waar hy geloop het, want hy het aangehou om in die Here te glo.’

37. “Die Here het vir my ook kwaad geword oor julle. Hy het vir my gesê: ‘Jy sal ook nie in die land kom nie.

38. Josua seun van Nun, die man wat vir jou werk, hý sal in die land kom. Jy moet hom sterk maak en vir hom leer om die werk te kan doen wat hy moet doen, want hy sal die Israeliete lei om die land vir hulleself te vat.

39. Julle kinders sal ook in die land ingaan. Julle het gesê die Amoriete sal julle kinders vang en wegvat, maar julle kinders sal in die land ingaan, julle kinders wat nou nie weet wat reg is en wat verkeerd is nie. Ek sal die land vir hulle gee, en hulle sal dit vir hulleself vat.

40. Maar julle, julle moet weggaan en na die woestyn gaan op die pad na die Riet-see.’

41. “Julle het toe vir my gesê: ‘Ons het verkeerd gedoen teen die Here, ons sal self oorlog gaan maak, ons sal doen wat die Here vir ons gesê het.’“En toe het julle al julle wapens geneem, julle het gedink julle sal maklik in die Bergland kan ingaan.

42. Maar die Here het vir my gesê: ‘Jy moet vir hulle sê: Julle moenie oorlog gaan maak nie, want Ek sal nie by julle wees nie, en julle sal verloor teen julle vyande.’

43. “Ek het dit vir julle gesê, maar julle het nie geluister nie. Julle was opstandig teen die Here, julle was hoogmoedig en julle het in die Bergland ingegaan.

44. En toe het die Amoriete wat in daardie Bergland woon, gekom en hulle het vir julle aangeval. Hulle het julle gevolg en gejaag soos ’n swerm bye van die land Seïr tot by die stad Gorma.

45. Julle het teruggekom en by die Here gekla en gehuil. Maar Hy het nie na julle geluister nie.

46. Julle het toe lank by die stad Kades gebly, so lank soos voorheen.”

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 1