Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 8:14-27 Bybel vir Almal (ABA)

14. Die engel het vir my gesê: “Dit sal 2 300 aande en oggende aanhou. Dan sal hulle weer die gewyde tempel begin gebruik.”

15. Ek, Daniël, wou weet wat beteken die dinge wat ek sien. Skielik het daar voor my iemand gestaan wat soos ’n man lyk.

16. Ek het gehoor iemand praat uit die Ulai-rivier. Hy het gesê: “Gabriël, jy moet vir Daniël sê wat beteken die dinge wat hy sien.”

17. Gabriël het gekom tot waar ek staan. Ek het groot geskrik en ek het gaan lê met my gesig teen die grond. Hy het vir my gesê: “Mens, jy moet weet, die dinge wat jy gesien het, wys wat nog sal gebeur.”

18. Ek, Daniël, het met my gesig teen die grond gelê toe Gabriël met my praat. Ek was bewusteloos, maar hy het aan my geraak en hy het my regop laat staan.

19. Gabriël het vir my gesê: “Ek sal nou vir jou sê wat sal gebeur wanneer God nie meer kwaad sal wees vir sy mense nie.

20. Die skaap-ram met die twee horings wat jy gesien het, is die konings van Medië en Persië.

21. En die bok-ram wat baie hare het, is die koning van die Grieke. Die groot horing wat tussen sy oë was, is die eerste koning.

22. Die groot horing het afgebreek, en vier horings het begin groei op die plek waar die horing was. Die vier horings is vier konings. Hulle sal Grieke wees, maar hulle sal nie baie sterk wees nie.

23. Wanneer hulle nie meer regeer nie en die mense baie sonde gedoen het, dan sal daar ’n koning kom wat baie wreed en geslepe is.

24. Hy sal baie sterk wees, maar dit is God wat hom sterk sal maak. Hy sal baie dinge verwoes. Hy sal doen wat hy wil. Hy sal sterk mense verwoes, ook die gewyde volk.

25. Hy sal doen wat hy wil omdat hy baie geslepe is. Hy sal hoogmoedig word en hy sal baie mense doodmaak. Niemand sal hom kan keer nie. Hy sal ’n vyand wees van God, die Koning van konings. Maar wanneer dit die regte tyd is, dan sal God hom breek.

26. Die dinge wat jy gesien het, sal gebeur, die dinge oor die oggende en die aande. Maar dit sal baie later gebeur. Jy moenie nou daaroor praat nie.”

27. Ek, Daniël, het siek geword en ek het lank siek gebly. Ek het opgestaan en weer die koning se werk gedoen, maar ek was baie geskok oor wat ek gesien het. Ek kon dit nie verstaan nie.

Lees volledige hoofstuk Daniël 8