Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 10:9-20-21 Bybel vir Almal (ABA)

9. Ek het gehoor die man praat, en toe ek hom hoor, het ek met my gesig teen die grond gaan lê. Ek was bewusteloos.

10. Maar ’n hand het my gevat en die hand het my opgetel. Ek het op my knieë en my hande gestaan. Ek het gebewe.

11. Die man het vir my gesê: “Daniël, God hou van jou. Hy het my na jou toe gestuur, en jy moet luister na wat ek vir jou sê. Staan op.”

12. Toe die man dit vir my sê, het ek opgestaan, maar ek het nog gebewe. Hy het vir my gesê: “Daniël, jy moenie bang wees nie. Jy wou graag verstaan wat jy gesien het, en jy was soos iemand wat rou. Jou God het daardie eerste dag gehoor wat jy wil bid en Hy het my na jou toe gestuur.

13. Die engel van die Perse het my 21 dae lank gekeer, maar ’n ander engel, Migael, het gekom en my gehelp, en ek kon toe weggaan van die Persiese konings. Migael is een van die leiers van die engele.

14. Ek het gekom om vir jou te sê wat met jou volk sal gebeur en om dit vir jou te wys.”

15. Die man het dit vir my gesê, maar ek het voor my op die grond gekyk. Ek kon niks sê nie.

16. Hy het soos ’n mens gelyk en hy het aan my lippe geraak. Toe kon ek praat. Ek het vir die man voor my gesê: “Meneer, ek het groot geskrik toe ek jou sien. Ek is baie swak.

17. Ek is soos ’n slaaf vir Meneer. Ek kan nie met jou praat nie. Ek is te swak, ek het nie asem nie.”

18. Die man wat soos ’n mens gelyk het, het weer aan my geraak. Ek het toe sterk geword.

19. Hy het vir my gesê: “Jy moenie bang wees nie. God hou van jou. Hy sal dit goed laat gaan met jou en Hy sal jou sterk maak.”Ek het sterk geword toe die man met my gepraat het. Ek het gesê: “Meneer, jy kan nou praat, want jy het my sterk gemaak.”

20-21. Die man het gesê: “Weet jy hoekom ek na jou toe gekom het? Ek moet nou teruggaan om oorlog te maak teen die engel van die Perse. Wanneer ek hom gewen het, dan sal die engel van die Grieke my aanval. Niemand help my om teen hulle oorlog te maak nie, net julle engel Migael help my. Maar ek sal nou vir jou sê wat geskryf is in die Boek van die Waarheid.

Lees volledige hoofstuk Daniël 10