Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 3:19-33 Bybel vir Almal (ABA)

19. Abner het ook met die Benjamin-mense gepraat. Toe het hy vir Dawid in Hebron gaan sê die mense van Israel en die hele Benjamin-stam is gereed.

20. Abner het by Dawid in Hebron gekom, en daar was twintig manne saam met hom. Dawid het ’n groot ete gegee vir Abner en die manne by hom.

21. Toe het Abner vir Dawid gesê: “Ek wil nou gereedmaak en ek wil al die leiers van Israel bymekaarbring by Meneer die koning sodat hulle ’n ooreenkoms kan maak met jou. Dan sal jy koning wees van al die mense. Ek weet jy wil hulle koning wees.”Dawid het gesê Abner mag gaan, en niemand het vir Abner probeer keer nie.

22. Maar Joab en die manne van Dawid het vyande gaan aanval, en hulle kom toe in hierdie tyd terug. Hulle het baie goed saamgebring wat hulle gevat het. Abner was toe nie meer in Hebron nie, want Dawid het hom laat gaan en niemand het hom probeer keer nie.

23. Toe Joab en al sy manne in Hebron kom, het iemand vir Joab gesê: “Abner seun van Ner was hier by die koning, en die koning het hom laat gaan en niemand het hom probeer keer nie.”

24. Joab het na die koning toe gegaan en hy het vir hom gevra: “Wat het jy gedoen? Abner het hier by jou aangekom, en jy het gesê hy mag gaan. Hoekom?

25. Jy ken vir Abner seun van Ner. Hy het gekom om jou te bedrieg en te kyk wat hier by jou gebeur en wat jy alles doen.”

26. Nadat Joab by die koning was, het hy vir Abner ’n boodskap gestuur en hy het Abner laat omdraai by Siras-put. Dawid het dit nie geweet nie.

27. Toe Abner terugkom in Hebron, het Joab hom eenkant toe geneem in die poort. Hy het gesê hy wil alleen met Abner praat. Maar toe steek Joab vir Abner in sy maag omdat Abner vir Asael, Joab se broer, doodgemaak het. Abner het gesterf.

28. Toe Dawid dit later hoor, het hy gesê: “Die Here sal altyd weet dat ek en my familie onskuldig is, ons het nie vir Abner seun van Ner vermoor nie.

29. Ek bid dat die Here vir Joab en sy hele familie sal straf oor hierdie moord. Ek bid dat daar altyd mense in die familie van Joab sal wees wat hulle doodbloei, of wat melaats is of kreupel, of wat in oorlog sterf of wat honger ly.”

30. Joab en sy broer Abisai het vir Abner vermoor omdat hy hulle broer Asael doodgemaak het in die oorlog by Gibeon.

31-32. Dawid het vir Joab en al die manne by hom gesê: “Julle moet julle klere skeur en rouklere aantrek, julle moet rou oor Abner.”Hulle het vir Abner in Hebron begrawe. Koning Dawid het geloop agter die mense wat Abner se lyk gedra het. Die koning het hard gehuil by Abner se graf, en al die manne het saam gehuil.

33. Die koning het ’n klaaglied gesing oor Abner. Hy het gesê:“Hoekom moes Abner sterfsoos ’n dwaas sterf?

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 3