Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 18:21-30 Bybel vir Almal (ABA)

21. Joab het toe vir die Kussiet gesê: “Gaan vertel jý vir die koning wat jy gesien het.”Die Kussiet het voor Joab gebuig en hy het gegaan.

22. Agimaäs seun van Sadok het weer vir Joab gevra: “Dit maak nie saak wat gebeur nie, ek wil asseblief ook agter die Kussiet hardloop.”Joab het geantwoord: “Seun, hoekom wil jy ook hardloop? Jy sal nie ook die boodskapper se beloning kry nie.”

23. Maar Agimaäs het gesê: “Dit maak nie saak nie, ek wil hardloop.”Joab sê toe: “Goed, jy mag hardloop.”Agimaäs het op die pad langs die Jordaan-rivier gehardloop, en hy het by die Kussiet verbygegaan.

24. Die koning het binne-in die poort tussen die voorste en die agterste deure gesit. Die wag het op die dak van die poort geklim, en toe hy kyk, sien hy daar kom ’n man wat alleen hardloop.

25. Die wag het geskree en hy het dit vir die koning gesê, en die koning het gesê: “As hy alleen is, dan is dit goeie nuus.”Agimaäs het aangehou hardloop en hy het nader gekom.

26. En toe sien die wag nog ’n man wat nader hardloop. Die wag skree toe af na die poort en hy sê: “Daar kom nog ’n man wat hardloop, hy is ook alleen.”Die koning het gesê: “Dit is ook goeie nuus.”

27. Die wag sê toe: “Ek sien die voorste man hardloop soos Agimaäs seun van Sadok.”En die koning sê: “Hy is ’n goeie man, hy bring goeie nuus.”

28. Agimaäs het geskree en vir die koning gesê: “Dit het goed gegaan.”Hy het vir die koning gebuig met sy gesig teen die grond en hy het gesê: “Ek prys jou God die Here. Hy het die mense laat verloor wat opstandig was teen Meneer die koning.”

29. Toe die koning vra of dit goed gaan met die jongman, met Absalom, het Agimaäs gesê: “Toe Joab vir my gesê het ek moet kom, het ek gesien ’n groot klomp mense staan bymekaar, maar ek weet nie hoekom nie.”

30. Die koning sê toe: “Kom staan hier,” en Agimaäs het dit gedoen.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 18