Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 16:12-23 Bybel vir Almal (ABA)

12. Die Here sien hoe swaar ek kry, miskien sal Hy dit weer goed laat gaan met my nadat die man my vandag vervloek het.”

13. Dawid en sy manne het verder gegaan. Simeï het teen die kant van die berg langs die pad geloop en hy het aangehou om vir Dawid te vervloek en om klippe en stof na hulle te gooi.

14. Die koning en al die mense by hom was baie moeg toe hulle by die Jordaan-rivier aankom, en Dawid het daar ’n bietjie gerus.

15. Toe Absalom en al die manne van Israel in Jerusalem aankom, was Agitofel by hom.

16. Dawid se vriend Gusai, van die stad Erek, het na Absalom toe gekom en hy het vir hom gesê: “Ek bid dat die koning lank sal lewe! Ek bid dat die koning lank sal lewe!”

17. Absalom het vir Gusai gevra: “Is dit wat jy vir jou vriend Dawid doen? Hoekom het jy nie saam met jou vriend gegaan nie?”

18. Toe sê Gusai vir Absalom: “Nee, ek behoort aan jou. Die Here en hierdie mense en al die manne van Israel het vir jóú gekies, en ek wil by jou bly.

19. En ook, vir wie sal ek werk? Ek wil vir my vriend se seun werk. Ek het vir jou pa gewerk, en nou wil ek ook so vir jou werk.”

20. Absalom het toe vir Agitofel gesê: “Kom, julle moet vir my sê wat ons moet doen.”

21. Toe sê Agitofel: “Jou pa het byvroue hier laat bly om die paleis op te pas. Jy moet na hulle toe gaan en jy moet seks hê met hulle. Wanneer al die Israeliete hoor dat jy jou pa verneder het, dan sal almal wat saam met jou is, nie bang wees nie, hulle sal doen wat hulle moet doen.”

22. Hulle het vir Absalom ’n tent opgeslaan op die paleis se dak, en al die Israeliete kon sien dat hy gaan slaap by sy pa se byvroue.

23. In daardie tyd het mense gedink dit is God wat vir Agitofel sê wat hy vir die koning moet sê. Dit was so in die tyd toe Dawid koning was en in die tyd toe Absalom koning was.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 16