Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 13:23-36 Bybel vir Almal (ABA)

23. Twee jaar later het Absalom mense gekry om sy skape se wol af te skeer by die stad Baäl-Gasor. Die stad het behoort aan die Efraim-stam. Absalom het al die prinse genooi om saam te gaan.

24. Hy het ook vir die koning gaan sê: “Ek kry mense om my skape te skeer, ek vra dat die koning en sy amptenare asseblief saam met my moet gaan.”

25. Die koning het vir Absalom gesê: “Nee, my seun, dit sal beter wees as ons nie almal gaan nie. Dit sal te veel werk wees vir jou.”Absalom het weer en weer vir die koning gevra, maar die koning wou nie gaan nie. Toe hy vir Absalom groet,

26. het Absalom vir hom gevra: “Mag my broer Amnon dan saam met ons gaan?”Die koning vra toe: “Hoekom moet hy saam met jou gaan?”

27. Absalom het aangehou om vir die koning te vra, en die koning het toe gesê Amnon en al die prinse mag saamgaan.

28. Absalom het vir die jongmanne by hom gesê: “Julle moet asseblief kyk wat Amnon doen. Wanneer hy dronk is van die wyn en ek sê: ‘Slaan vir Amnon dood!’ dan moet julle hom doodmaak. Julle moenie bang wees nie, dit is ék wat sê julle moet dit doen. Julle moet sterk wees, julle moet dapper manne wees.”

29. Absalom se jongmanne het met Amnon gedoen soos Absalom vir hulle gesê het. Toe staan al die prinse op en hulle spring op hulle muile en hulle vlug.

30. Hulle was nog op die pad toe Dawid hoor dat Absalom al die prinse doodgeslaan het en dat nie een prins nog lewe nie.

31. Die koning het opgestaan en hy het sy klere geskeur en op die grond gaan lê. Al sy amptenare het ook hulle klere geskeur en hulle het by hom kom staan.

32. Maar toe sê Jonadab, die seun van Dawid se broer Sima: “Meneer moenie dink al die jongmanne, die prinse, is dood nie. Net Amnon is dood. ’n Mens kon op Absalom se gesig sien dat hy besluit het om vir Amnon dood te maak, van die dag toe Amnon vir Tamar, Absalom se suster, verkrag het.

33. Maar nou moet Meneer die koning nie sleg voel en dink al die prinse is dood nie, want dit is net Amnon wat dood is, en

34. Absalom het gevlug.”Die jongman wat waggestaan het, het gesien daar kom ’n groot klomp mense op die pad agter hom, teen die kant van die berg.

35. Jonadab sê toe vir die koning: “Kyk, daar kom die prinse. Dit is wat ek vir die koning gesê het.”

36. En toe Jonadab dit klaar gesê het, het die prinse daar aangekom, en hulle het hard begin huil, en die koning en sy amptenare het ook baie hard begin huil.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 13