Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 2:9-17 Bybel vir Almal (ABA)

9. Hulle moet vir my baie sederhout gereedmaak, want die tempel wat ek wil bou, moet groot en wonderlik mooi wees.

10. Dit is wat ek sal betaal vir jou werkers wat die hout kap: 20 000 kor koring, 20 000 kor gars, 20 000 bat wyn en 20 000 bat olyf-olie.”

11. Koning Hiram van Tirus het vir Salomo in ’n brief geantwoord. Hy het geskryf: “Die Here is lief vir sy volk. Daarom het Hy jou koning laat word oor hulle.”

12. Hiram het ook geskryf: “Ek prys die Here, die God van Israel, Hy wat die hemel en die aarde gemaak het. Hy het vir koning Dawid ’n wyse seun gegee, ’n man wat weet wat hy moet doen en wat slim en verstandig is, sodat hy vir die Here ’n tempel kan bou en ook ’n paleis vir homself.

13. Nou stuur ek vir jou ’n vaardige man, ’n man wat weet hoe om hierdie dinge te doen. Hy is die meester-ambagsman Hiram.

14. Hy is die seun van ’n vrou van die land Dan, en sy pa is ’n man van Tirus. Hy weet hoe om met goud te werk en ook met silwer, brons, yster, klip en hout. Hy weet ook hoe om te werk met pers en blou wol-materiaal, met linne en rooi materiaal, en hoe om letters en prente op klip uit te sny. Hy kan dit doen op enige manier wat jy vir hom sê. Hy kan dit doen saam met jou ambagsmanne, die ambagsmanne van jou pa, koning Dawid.

15. Jy moet nou vir my die koring, die gars, die wyn en die olyf-olie stuur wat jy belowe het.

16. Dan sal ons al die bome wat jy nodig het, op die Libanon-berg kap. Ons sal vlotte daarvan maak en dit vir jou oor die see bring tot by die stad Jafo. Jy kan hulle dan self na Jerusalem bring.”

17. Salomo het al die mans laat tel wat vreemdelinge in die land Israel was. Sy pa Dawid het hulle voorheen ook laat tel. Hulle was almal saam 153 600 mans.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 2