Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 11:3-16 Bybel vir Almal (ABA)

3. “Jy moet praat met Rehabeam seun van Salomo, koning van Juda, en met al die Israeliete in die land Juda en die land Benjamin. Jy moet vir hulle sê:

4. Die Here sê: Julle moenie oorlog gaan maak teen julle broers nie. Julle moet teruggaan, elkeen na sy huis, want dit is Ek wat alles laat gebeur het.”Hulle het geluister na die boodskap van die Here en hulle het teruggegaan, hulle het nie vir Jerobeam gaan aanval nie.

5. Rehabeam het in Jerusalem gewoon, en hy het stede in Juda sterk gemaak.

6. Hy het die mure sterker gemaak van die stede Betlehem, Etam, Tekoa,

7. Bet-Sur, Soko, Adullam,

8. Gat, Maresa, Sif,

9. Adorajim, Lakis, Aseka,

10. Sora, Ajalon en Hebron. Dit was stede in die land Juda en Benjamin wat sterk mure moes hê.

11. Rehabeam het die mure sterker gemaak en hy het mense gekies en aangestel om in die stede te regeer. Daar was ook stoorkamers met kos, olyf-olie en wyn.

12. Daar was ook skilde en spiese. Rehabeam het die stede baie sterk gemaak. Die land Juda en Benjamin het aan hom behoort.

13. Die priesters en Leviete wat oral tussen die mense van Israel gewoon het, het uit al hulle woonplekke na Rehabeam toe gekom.

14. Die Leviete het hulle weivelde en hulle grond gelos en hulle het na Juda en Jerusalem gekom, want Jerobeam en sy seuns het gesê hulle mag nie meer priesters van die Here wees nie.

15. Jerobeam het sy eie priesters gekies en aangestel vir die offer-plekke en die veldgode en die kalfbeelde wat hy gemaak het.

16. Mense uit al die stamme van Israel het saam met die priesters en Leviete na Jerusalem gekom. Hulle het self besluit dat hulle die Here wil dien, en hulle het gekom om te offer vir die Here, die God van hulle voorvaders.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 11