Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 8:22-29 Bybel vir Almal (ABA)

22. Die Edomiete is nou nog altyd vry, Juda regeer nie oor hulle nie. Die mense van die stad Libna het in dieselfde tyd ook opstandig geword.

23. Al die ander dinge wat Joram gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Juda.

24. Joram het gesterf, en sy mense het hom begrawe by sy voorvaders in die Dawidstad. Sy seun Ahasia het koning geword ná hom.

25. Ahasia seun van Joram het koning van Juda geword in die twaalfde jaar nadat Joram seun van Agab koning van Israel geword het.

26. Ahasia was 22 jaar oud toe hy koning geword het in Jerusalem, en hy was een jaar lank koning. Sy ma was Atalia, ’n kleindogter van koning Omri van Israel.

27. Ahasia het gelewe soos die familie van Agab, hy het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie. Hy het gedoen soos die familie van Agab, want sy ma was ’n dogter van Agab.

28. Ahasia het saam met Joram gaan oorlog maak teen koning Gasael van Aram. Dit was by die stad Ramot in die land Gilead, en die Arameërs het vir Joram gewen.

29. Die Arameërs het vir koning Joram raakgeskiet en hulle het hom gewond toe hy in die stad Ramot oorlog gemaak het teen koning Gasael van Aram. Koning Joram het toe teruggegaan na die stad Jisreël om gesond te word. Ahasia seun van koning Joram van Juda het vir Joram seun van Agab gaan besoek in Jisreël, want Joram was siek.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 8