Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 6:1-15 Bybel vir Almal (ABA)

1. Die profete het vir Elisa gesê: “Kyk, die plek waar jy vir ons leer, is te klein vir ons.

2. Laat ons asseblief na die Jordaan-rivier gaan. Ons kan daar pale afkap, sodat ons die plek groter kan maak waar ons moet sit.”Elisa het gesê dit is goed,

3. en toe sê een van die profete vir Elisa: “Jy moet asseblief saam met ons gaan.”Elisa het gesê dit is goed, hy sal saamgaan.

4. Hy het toe saamgegaan, en hulle het by die Jordaan-rivier gekom en begin bome afkap.

5. Terwyl een van die profete besig was om ’n groot boom af te kap, het sy byl in die water geval. Hy het geskree en gesê: “Ag, Meneer, dit is ’n byl wat ek geleen het.”

6. Die man van God het vir hom gevra: “Waar het die byl in die water geval?”Die profeet het vir Elisa die plek gewys. Elisa het ’n stuk hout afgekap en hy het dit daar in die water gegooi. En toe dryf die byl op die water.

7. Elisa het gesê: “Haal die byl uit.”Die profeet het sy hand uitgesteek en hy het die byl geneem.

8. Die koning van Aram het oorlog gemaak teen Israel. Hy het saam met sy offisiere planne gemaak en hy het besluit om sy tente op ’n plek op te slaan.

9. Maar die man van God het vir die koning van Israel laat weet: “Pasop dat julle nie by daardie plek verbygaan nie, want die Arameërs gaan daarnatoe.”

10. Die koning van Israel het ’n boodskap gestuur en hy het die mense wat daar was, gewaarsku. Dit het meer as een maal gebeur.

11. Die koning van Aram het bekommerd geword daaroor en hy het sy offisiere geroep en vir hulle gesê: “Julle moet vir my sê wie van ons manne vertel vir die koning van Israel van ons planne.”

12. Een van sy offisiere het gesê: “Nee, Meneer die koning, dit is nie een van ons manne nie, dit is die profeet Elisa wat daar in die land Israel is. Hy weet alles en hy kan vir sy koning ook die dinge sê wat jy in jou slaapkamer praat.”

13. Die koning van Aram het gesê hulle moet uitvind waar Elisa is, sodat hy mense kan stuur om vir Elisa te vang. Die koning hoor toe dat Elisa in die stad Dotan is.

14. Die koning van Aram stuur toe perde en oorlogkarre en baie manne na Dotan. Hulle het in die nag daar gekom en hulle het rondom die stad gaan staan.

15. Die volgende oggend het die bediende van Elisa, die man van God, vroeg opgestaan, en toe hy uitgaan, sien hy al die manne en die perde en die oorlogkarre rondom die stad. Hy het vir Elisa gesê: “Ag, Meneer, wat moet ons doen?”

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 6