Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 4:38-44 Bybel vir Almal (ABA)

38. Elisa het teruggegaan na die stad Gilgal. Daar was hongersnood in die land. Eendag toe hy besig was om vir die profete te leer, het hy vir die jongman by hom gesê: “Sit die groot pot op die vuur en kook kos vir die profete.”

39. Een van die profete het uitgegaan veld toe om kruie te pluk. Hy kry toe ’n wilde plant wat vrugte gedra het, en hy pluk sy sak vol. Toe kom hy terug en hy sny die vrugte in stukkies en gooi dit in die pot. Maar hy het nie die vrugte geken nie.

40. Hulle het later vir die manne kos geskep om te eet, maar toe hulle die kos proe, het hulle geskree: “Man van God, die kos is giftig!”Hulle kon dit nie eet nie.

41. Maar Elisa het gesê hulle moet vir hom meel bring, en hy het die meel in die pot gegooi en gesê: “Skep nou van die kos vir die manne.”Hulle het geëet, en daar was toe niks verkeerd met die kos nie.

42. Iemand van die stad Baäl-Salisa het vir die man van God 20 garsbroodjies gebring van gars wat nog vars was, en ook vars koring-are. Elisa het gesê: “Gee dit vir die manne sodat hulle kan eet.”

43. Maar sy bediende het gesê: “Ek kan nie hierdie kos vir 100 manne gee nie, dit is te min.”Elisa het gesê: “Gee dit vir die manne sodat hulle kan eet, want die Here sê hulle sal genoeg eet en daar sal nog oorbly.”

44. Die bediende het die kos vir hulle gegee. Hulle het genoeg geëet, en daar het kos oorgebly.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 4