Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 4:1-18 Bybel vir Almal (ABA)

1. Een van die profete se vrou het na Elisa toe gekom en sy het vir hom gevra dat hy haar moet help. Sy het gesê: “My man is dood. Jy weet self dat hy die Here gedien het. Maar hy het geld vir ’n man geskuld, en nou het daardie man gekom om my twee seuns te vat. Hy wil hulle sy slawe maak.”

2. Elisa het vir haar gevra: “Wat kan ek vir jou doen? Sê vir my wat het jy in jou huis.”Sy het gesê: “Ek het niks in die huis nie. Ek het net ’n kruikie olyf-olie.”

3. Toe sê Elisa: “Gaan leen by jou bure leë kruike, jy moet baie kruike leen.

4. Gaan dan in jou huis en sluit die deur. Dan moet jy en jou seuns al die kruike vol olyf-olie gooi en julle moet die kruike bêre wat vol is.”

5. Die vrou het gegaan en sy het die deur agter haar toegesluit. Haar seuns het die kruike vir haar gegee en sy het dit volgemaak.

6. Toe die kruike almal vol is, sê sy vir een van haar seuns: “Bring vir my nog ’n kruik.”Die seun het vir haar gesê: “Daar is nie meer kruike nie.”

7. En toe het daar nie meer olyf-olie uit die kruikie gekom nie. Sy het dit vir die man van God gaan sê, en hy het gesê: “Gaan verkoop nou die olyf-olie en betaal die skuld. Jy en jou seuns kan dan lewe van die geld wat oorbly.”

8. Toe Elisa eendag in die stad Sunem kom, het ’n ryk vrou hom genooi om by hulle te kom eet. Hy het toe elke maal wanneer hy daar gekom het, na haar huis gegaan om te eet.

9. Eendag het sy vir haar man gesê: “Luister na wat ek sê, die man van God is ’n gewyde man en hy kom baie maal by ons.

10. Kom ons maak die klein bo-kamer vir hom gereed, en ons sit daar vir hom ’n bed en ’n stoel en ’n tafel en ’n lamp. Dan kan hy elke maal wanneer hy by ons kom, daar gaan bly.”

11. Hulle het dit toe gedoen. Eendag het Elisa gekom en hy het in die bo-kamer op die bed gaan lê.

12. Hy sê toe vir die jongman Gehasi wat vir hom werk: “Gaan roep vir my hierdie vrou van Sunem.”Gehasi het haar gaan roep, en sy het by die deur kom staan.

13. Toe sê Elisa vir Gehasi: “Sê vir haar: Jy het baie gedoen om vir ons te help. Wat kan ons vir jóú doen? Kan ek vir die koning of vir die hoof van die leër iets sê oor jou?”Die vrou het geantwoord: “Nee, ek woon by my eie mense.”

14. Elisa sê toe: “Ek wonder wat ek vir haar kan doen.”En toe sê Gehasi: “Ek weet wat jy vir haar kan doen. Sy het nie ’n seun nie, en haar man is oud.”

15. Elisa het gesê Gehasi moet die vrou gaan roep, en sy het by die deur kom staan.

16. Toe sê Elisa vir die vrou: “Jy sal volgende jaar hierdie tyd jou eie seun in jou arms hou.”Die vrou het gesê: “Nee, Meneer, jy is ’n man van God, jy moenie vir my jok nie.”

17. Maar die vrou het swanger geword en sy het ’n seun gekry op die tyd wat Elisa gesê het.

18. Toe die seun groter was, het hy eendag saam met sy pa gegaan na die koringland waar die mense die koring afsny.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 4