Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 14:4-21 Bybel vir Almal (ABA)

4. Amasia het ook nie die offer-plekke afgebreek nie. Die mense het nog op die offer-plekke ge-offer en wierook gebrand.

5. Toe Amasia seker was dat hy koning sal bly, het hy sy amptenare doodgemaak wat vir sy pa vermoor het.

6. Hy het nie die kinders van die moordenaars doodgemaak nie, want in die Wette van Moses is geskryf dat die Here gesê het: “Wanneer ’n kind sonde doen, dan moet sy pa nie daaroor sterf nie, en wanneer ’n pa sonde doen, dan moet sy kind nie daaroor sterf nie. Elkeen mag net vir sy eie sondes sterf.”

7. Dit is Amasia wat 10 000 Edomiete oorwin het in die Sout-vallei. Hy het die stad Sela in die oorlog oorwin en gevat, en hy het die naam van die stad verander na Jokteël. Dit is tot vandag toe die naam van daardie stad.

8. In daardie tyd het Amasia boodskappers gestuur na Joas seun van Joahas seun van koning Jehu van Israel. Die boodskappers moes vir Joas sê: “Kom ons maak oorlog teen mekaar.”

9. Koning Joas van Israel het vir koning Amasia van Juda geantwoord: “Die doringbos op die Libanon-berg laat weet vir die sederboom op die Libanon-berg: ‘Gee jou dogter sodat my seun met haar kan trou.’ En toe kom daar ’n wilde dier van die Libanon-berg verby en hy trap die doringbos plat.

10. Jy het die Edomiete oorwin, dit is seker. En nou verbeel jy jou dat jy baie belangrik is. Bly by jou huis. Hoekom wil jy probleme maak vir jouself? Jy sal sterf, en die mense van Juda saam met jou.”

11. Maar Amasia wou nie luister nie. Toe het koning Joas van Israel gekom, en hy en koning Amasia van Juda het teen mekaar oorlog gemaak in die stad Bet-Semes. Bet-Semes het aan Juda behoort.

12. Israel het gewen teen Juda, en die manne van Juda het gevlug, elkeen na sy huis.

13. Koning Joas van Israel het vir koning Amasia seun van Joas seun van Ahasia gevang by Bet-Semes en hy het vir Amasia na Jerusalem gebring. Daar het Joas ’n stuk van Jerusalem se muur laat afbreek, die stuk muur was 400 el lank. Dit was tussen die Efraim-poort en die Hoek-poort.

14. Joas het ook al die goud en silwer en die ander goed gevat wat hy in die tempel en in die stoorkamers van die paleis kon kry. Hy het ook gyselaars saam met hom geneem. En toe het hy teruggegaan na die stad Samaria.

15. Al die ander dinge wat Joas gedoen het, ook die dapper dinge wat hy gedoen het en sy oorlog teen koning Amasia van Juda, is geskryf in die dagboeke van die konings van Israel.

16. Joas het gesterf, en sy mense het hom begrawe in Samaria by die konings van Israel. Sy seun Jerobeam het koning geword ná hom.

17. Koning Amasia van Juda, seun van Joas, het nog 15 jaar gelewe nadat Joas seun van Joahas koning van Israel gesterf het.

18. Die ander dinge wat Amasia gedoen het, is geskryf in die dagboek van die konings van Juda.

19. Mense in Jerusalem het besluit om Amasia dood te maak. Hy het gevlug na die stad Lakis, maar hulle het mense daarnatoe gestuur om hom te vang, en hulle het hom daar doodgemaak.

20. Hulle het sy liggaam op perde teruggebring, en hulle het hom begrawe in Jerusalem by sy voorvaders in die Dawidstad.

21. Al die mense in Jerusalem het toe vir Ussia geneem en hulle het hom koning gemaak ná sy pa Amasia. Ussia was toe 16 jaar oud.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 14