Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 10:4-15 Bybel vir Almal (ABA)

4. Die leiers het baie bang geword en gesê: “Twee konings kon nie teen Jehu wen nie, ons sal ook nie teen hom kan wen nie.”

5. Die bestuurder van die paleis en die burgemeester en die leiers en die mense wat die koning se kinders moes grootmaak, het toe vir Jehu ’n boodskap gestuur en gesê: “Ons wil vir jou werk, ons sal alles doen wat jy sê. Ons wil nie vir iemand anders koning maak nie. Jy moet doen wat jy dink is reg.”

6. Jehu skryf toe weer ’n brief en hy sê in die brief: “As julle kies om my te help en as julle wil doen wat ek sê, dan moet julle môre hierdie selfde tyd die koppe van die prinse vir my na Jisreël bring.”Die 70 prinse was in die stad by belangrike mense wat die kinders moes grootmaak.

7. Toe die brief by hierdie belangrike mense kom, het hulle die 70 prinse almal doodgemaak. Hulle het die koppe in mandjies gesit en hulle het dit vir Jehu in Jisreël gestuur.

8. Toe Jehu die boodskap kry dat hulle die prinse se koppe gebring het, het hy gesê: “Sit die koppe bymekaar in twee hope voor die poort en laat dit daar bly tot môre.”

9. Die volgende oggend het Jehu uitgegaan. Hy het by die poort gaan staan en vir al die mense gesê: “Julle is onskuldig. Dit is ék wat planne gemaak het teen my koning, en ék het hom doodgemaak. Maar wie het al hierdie prinse doodgemaak?

10. Julle moet dit weet: Alles het gebeur wat die Here gesê het oor die familie van Agab. Die Here het sy dienaar Elia gestuur om die boodskap te bring, en die Here het gedoen wat Hy gesê het.”

11. Jehu het almal doodgemaak wat nog oor was van die familie van Agab in die stad Jisreël, ook al die belangrike amptenare van Agab, en sy vriende en sy priesters. Jehu het nie een laat aanhou lewe nie.

12. Daarna het hy gereedgemaak en na Samaria gegaan. Langs die pad by die stad Bet-Eked-Roïm

13. het hy koning Ahasia van Juda se broers gekry. Hy het gevra: “Wie is julle?”Hulle het gesê: “Ons is Ahasia se broers en ons gaan om te hoor hoe dit gaan met die prinse en met die seuns van die koning se ma.”

14. Jehu sê toe: “Vang hulle lewendig!”Sy manne het Ahasia se broers gevang en doodgemaak by die watergat van Bet-Eked. Hulle was 42 mans, almal het gesterf, nie een het aangehou lewe nie.

15. Toe Jehu verder gaan, kry hy vir Jonadab seun van Rekab en hy groet hom en vra: “Jonadab, ek is jou vriend en ek wil jou help. Wil jy ook vir my help?”Jonadab het gesê: “Ja, ek wil jou help, gee vir my jou hand.”Jonadab het sy hand vir hom gegee en Jehu het vir Jonadab gehelp om op die oorlogkar te klim.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 10