Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 10:17-27 Bybel vir Almal (ABA)

17. Toe Jehu in Samaria aankom, het hy al die familie van Agab wat nog gelewe het in Samaria, doodgemaak. Nie een het aangehou lewe nie. Dit was soos die Here vir Elia gesê het.

18. Jehu het daarna al die mense laat bymekaarkom en hy het vir hulle gesê: “Agab het vir Baäl net ’n bietjie gedien, maar ek, Jehu, gaan vir Baäl baie dien.

19. Daarom, roep al die profete van Baäl en almal wat hom dien en al sy priesters. Julle moenie een laat wegbly nie, want ek wil vir Baäl ’n groot offer bring. Ek sal almal laat doodmaak wat nie kom nie.”Jehu het dit gesê omdat hy almal wou doodmaak wat vir Baäl gedien het.

20. Hy het gesê hulle moet vir almal sê daar sal ’n feesdag vir Baäl wees. Hulle het dit gedoen,

21. en Jehu het dit vir al die mense van Israel laat weet. Almal wat vir Baäl gedien het, het gekom. Niemand het by die huis gebly nie. Hulle het na die tempel van Baäl gekom, en die tempel was heeltemal vol, van die een kant tot by die ander kant.

22. Toe sê Jehu vir die amptenaar wat die klerekamer moes oppas: “Jy moet klere bring vir almal wat vir Baäl dien.”Die amptenaar se mense het die klere uitgebring,

23. en Jehu en Jonadab seun van Rekab het in die tempel van Baäl ingegaan en hulle het vir die mense wat vir Baäl gedien het, gesê: “Julle moet kyk, hier moenie dienaars van die Here tussen julle wees nie. Hier moet net mense wees wat vir Baäl dien.”

24. Hulle het toe ingegaan om die brand-offers en ander offers te bring. Jehu het 80 manne buite laat staan en hy het vir hulle gesê: “Julle moet hierdie mense doodmaak. As een van julle iemand hier vry laat wegkom, dan sal hy sterf.”

25. Dadelik nadat Jehu klaar die brand-offer ge-offer het, het hy vir die wagte en die offisiere gesê: “Gaan in en maak hulle almal dood, niemand moet uitkom nie.”Hulle het toe die mense wat vir Baäl gedien het, doodgesteek met swaarde. Die wagte en die offisiere het die dooie liggame uitgegooi. Toe het hulle in die agterste kamer van die tempel ingegaan

26. en hulle het die klip-pale uit die tempel van Baäl gebring en in die vuur gegooi.

27. Hulle het Baäl se klip-paal stukkend geslaan en hulle het die tempel van Baäl afgebreek. Hulle het ’n toilet daarvan gemaak. Dit is vandag nog so.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 10