Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 4:4-15 Bybel vir Almal (ABA)

4. Die manne het mense na die stad Silo gestuur om die verbondskis van die Here daar te gaan haal, die Here wat oor alles regeer en wat sy troon bokant die gerubs het. Hofni en Pinehas, die twee seuns van Eli, was by die verbondskis van God.

5. Toe die verbondskis van die Here by die kamp van die Israeliete kom, het hulle almal hard geskree, want hulle wou begin oorlog maak. Die aarde het geskud.

6. Die Filistyne het gehoor die Israeliete skree en hulle wil weer begin veg. Hulle het gevra: “Hoekom skree die Hebreërs so?”Toe die Filistyne hoor dat die kis van die Here in die kamp van die Israeliete gekom het,

7. het hulle bang geword en gesê: “God het na die kamp van die Israeliete gekom. Dit sal sleg gaan met ons. So iets het nog nooit gebeur nie.

8. Dit sal nou sleg gaan met ons, wie sal ons red van hierdie sterk God? Dit is dieselfde God wat die Egiptenaars in die woestyn siek gemaak het en hulle laat sterf het.

9. Filistyne, julle moet sterk wees, julle moet dapper wees! Anders sal julle verloor teen die Hebreërs en dan sal julle moet werk vir hulle, soos hulle vir julle gewerk het. Julle moet dapper wees, julle moet hard veg.”

10. Die Filistyne het geveg, en hulle het die Israeliete weer oorwin. Die Israeliete het huis toe gevlug. Baie Israeliete het gesterf, 30 000 is dood.

11. Die Filistyne het ook die kis van God gevat, en Eli se twee seuns, Hofni en Pinehas, het ook gesterf.

12. ’n Man van die Benjamin-stam het gehardloop van die plek waar hulle geveg het en hy het dieselfde dag in Silo aangekom. Hy het sy klere geskeur en hy het grond op sy kop gegooi.

13. Toe hy in Silo kom, het Eli op ’n stoel gesit en hy het gewag dat iemand moet kom, want hy was bekommerd oor die kis van God. Toe die man in die stad kom en vertel wat gebeur het, het al die mense in die stad geskree.

14. Eli het gehoor hulle skree, en hy het gevra: “Hoekom skree die mense?”Toe kom die man vinnig na Eli toe om vir hom te vertel wat gebeur het.

15. Eli was 98 jaar oud, en hy kon nie meer sien nie.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 4