Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 26:6-18 Bybel vir Almal (ABA)

6. Dawid het vir Agimelek van die stad Gat en vir Abisai, seun van Seruja en broer van Joab, gevra: “Wie sal saam met my na Saul se kamp gaan?”Abisai het gesê: “Ek sal saam met jou gaan.”

7. Dawid en Abisai het in die nag by Saul se manne gekom. Saul het daar in die kamp gelê en slaap. Sy spies het regop gestaan naby sy kop. Abner en die manne het rondom hom gelê.

8. Toe sê Abisai vir Dawid: “God het jou vandag gehelp om jou vyand te vang. Ek sal hom met my spies in die grond vassteek. Ek sal dit net een maal doen, dan sal hy dood wees.”

9. Maar Dawid het vir Abisai gesê: “Moenie hom doodmaak nie. As iemand iets doen teen die gesalfde van die Here, dan moet hy weet die Here sal hom straf.

10. Ek weet, so seker soos die Here lewe, die Here sal Saul laat sterf, of Saul sal sterf wanneer dit sy tyd is, of hy sal oorlog toe gaan en sterf.

11. Nee, ek sal nie iets doen teen die gesalfde van die Here nie. Maar kom ons neem die spies wat by sy kop staan en die waterkruik en dan loop ons.”

12. Dawid het die spies en die waterkruik by Saul se kop geneem, en hulle het geloop. Niemand het dit gesien of iets gehoor en wakker geword nie. Almal het geslaap, die Here het hulle baie vas laat slaap.

13. Dawid het na die ander kant van die vallei gegaan en hy het op die berg gaan staan, ver van Saul en sy manne.

14. Dawid het vir Saul se manne en vir Abner seun van Ner geskree: “Abner, kan julle my hoor?”Abner het geantwoord en gevra: “Wie is jy? Hoekom roep jy die koning?”

15. Toe sê Dawid vir Abner: “Ek het gedink jy is ’n dapper man, niemand in die land Israel is soos jy nie. Maar hoekom het jy nie jou koning opgepas nie? Iemand het in die kamp gekom, hy kon jou koning doodgemaak het as hy wou.

16. Jy het nie jou werk goed gedoen nie. So seker soos die Here lewe, julle moet sterf, want julle het nie waggestaan by julle koning nie, en hy is die gesalfde van die Here. Kyk, hier is die spies van die koning en die waterkruik wat by sy kop was.”

17. Saul het gehoor dit is Dawid wat praat, en hy het gevra: “Is dit jý wat praat, my seun Dawid?”En Dawid het gesê: “Ja, Meneer die koning, dit is ek wat praat.

18. Hoekom jaag jy my? Wat het ek gedoen wat verkeerd is?

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 26