Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 17:24-40 Bybel vir Almal (ABA)

24. Al die manne van Israel het teruggestaan toe hulle die man sien. Hulle was baie bang.

25. Hulle het gesê: “Sien julle hierdie man wat vorentoe kom? Hy kom om vir die Israeliete te sê dat hulle niks beteken nie. Die koning sal die man wat hom wen, baie ryk maak. Die koning sal ook sy dogter met die man laat trou, en die man se familie sal nie meer vir die koning moet werk soos die ander Israeliete nie.”

26. Dawid het vir die manne wat by hom gestaan het, gevra: “Wat sal die koning doen vir die man wat hierdie Filistyn wen sodat hy nie meer die Israeliete sal spot nie? Want wie is hierdie Filistyn? Hy is ’n heiden. Hoekom sê hy die soldate van die God wat lewe, beteken niks?”

27. Die manne het vir Dawid gesê wat die koning sal doen vir die man wat die Filistyn oorwin.

28. Dawid se oudste broer Eliab het gehoor toe Dawid met die manne praat. Eliab het kwaad geword vir Dawid en hy het gesê: “Hoekom het jy hiernatoe gekom, en by wie het jy daardie skape en bokke in die veld gelos? Ek weet jy is parmantig en skelm. Jy het net gekom om te kyk hoe ons veg.”

29. Dawid het gesê: “Wat het ek verkeerd gedoen? Ek het net gevra.”

30. Dawid het weggedraai van Eliab. Hy het dieselfde vir die ander manne gevra, en hulle het vir hom dieselfde geantwoord.

31. Party manne het gehoor wat Dawid sê, en hulle het dit vir koning Saul gaan vertel. Saul het vir Dawid laat roep.

32. Dawid het vir Saul gesê: “Niemand moet bang wees vir hierdie Filistyn nie. Ek sal teen hom gaan veg.”

33. Saul het vir Dawid gesê: “Jy kan nie teen hom gaan veg nie, want jy is ’n kind en hy is ’n man wat oorlog maak vandat hy jonk was.”

34. Dawid het vir Saul gesê: “Ek was ’n wagter by my pa se skape en bokke, en wanneer ’n leeu of ’n beer gekom het en een van die skape weggedra het,

35. dan het ek hom gejaag en hom geslaan en die skaap uit sy bek geruk. En wanneer hy my wou byt, dan het ek hom aan sy baard gegryp en hom doodgeslaan.

36. Ek het leeus én bere oorwin, en hierdie Filistyn, hierdie heiden, sal soos een van hulle wees, want hy het gesê die manne van die God wat lewe, beteken niks.”

37. Dawid het gesê: “Die Here wat my gered het van leeus en bere, dit is Hy wat my sal red van hierdie Filistyn.”Saul het vir Dawid gesê: “Goed, jy mag gaan. Ek bid dat die Here jou sal help.”

38. Saul het toe sy klere geneem en hy het dit vir Dawid gegee om aan te trek. Saul het sy helm van brons op Dawid se kop gesit en hy het gesê Dawid moet die harnas aantrek.

39. Dawid het sy swaard bo-oor die klere vasgemaak met ’n belt en hy het probeer loop, want hy het dit nog nooit gedoen nie. Maar toe sê hy vir Saul: “Ek kan nie met hierdie swaar goed loop nie, ek het dit nog nooit gedoen nie.”Dawid het toe Saul se klere uitgetrek.

40. Hy het sy kierie geneem en hy het vyf gladde klippe in die sloot gaan soek. Hy het dit in sy skaapwagter-sak gesit. Toe het hy nader gegaan na die Filistyn toe en hy het sy slingervel in sy hand vasgehou.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 17