Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 14:27-39 Bybel vir Almal (ABA)

27. Maar Jonatan het nie gehoor toe sy pa dit vir die manne gesê het nie. Hy het ’n kierie by hom gehad. Hy het die kierie se punt in die heuning gesteek en hy het die heuning afgelek. Hy het dadelik baie beter gevoel.

28. Een van die manne het vir hom gesê: “Jou pa het gesê die manne mag nie vandag eet nie, en die man wat eet, sal sterf. Nou is die manne swak van die honger.”

29. Jonatan het gesê: “My pa bring die dood oor die land. Kyk, ek het van die heuning geproe en ek voel nou baie beter.

30. As die manne vandag geëet het van die goed wat hulle gevat het van die vyande, dan sou dit met hulle ook baie beter gegaan het. Maar nou het hulle nie baie Filistyne doodgemaak nie.”

31. Die Israeliete het daardie dag teen die Filistyne geveg van die stad Mikmas tot by Ajalon, en hulle was baie moeg.

32. Die manne het van die skape en bokke en beeste gevang wat hulle gevat het van die Filistyne. Hulle het die diere op die grond geslag en hulle het die vleis geëet wat vol bloed was.

33. Iemand het vir Saul gaan sê: “Jy moet kyk, die manne doen sonde teen die Here, hulle eet vleis wat vol bloed is.”Saul het gesê: “Julle is ontrou aan die Here. Julle moet vandag ’n groot klip hiernatoe rol.

34. Dan moet julle vir al die manne sê elkeen moet sy bees of sy skaap bring en hy moet dit hier slag en eet. Hulle moenie sonde doen teen die Here nie, hulle moenie vleis eet wat vol bloed is nie.”Al die manne het toe in die nag hulle diere gebring en daar geslag.

35. Saul het ’n altaar vir die Here gebou. Dit was die eerste maal dat hy ’n altaar vir die Here gebou het.

36. Daarna het Saul gesê: “Kom ons gaan vannag en ons veg teen die Filistyne en vat hulle goed. Ons moet aanhou tot die oggend, ons moenie een van hulle laat aanhou lewe nie.”Die manne het gesê: “Jy moet doen wat jy dink is reg.”Maar die priester het gesê: “Ons moet eers hier voor God kom staan en vir Hom vra wat ons moet doen.”

37. Saul het toe vir God gevra: “Moet ons die Filistyne gaan aanval? Sal U ons laat wen teen hulle?”Maar God het daardie dag nie vir Saul geantwoord nie.

38. Saul het toe gesê: “Offisiere, julle moet hiernatoe kom, ons moet uitvind wie hierdie sonde gedoen het.

39. Want die man wat die sonde gedoen het, sal sterf, dit is seker, so seker soos die Here lewe, Hy wat vandag vir Israel gered het. Die man sal sterf, ook as dit my seun Jonatan is.”Nie een van die manne het hom geantwoord nie.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 14