Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 14:20-28 Bybel vir Almal (ABA)

20. Saul en al die manne het geskree om die oorlog te begin en hulle het gegaan om die Filistyne aan te val. Die Filistyne was besig om mekaar dood te maak, en alles was baie deurmekaar.

21. Die Hebreërs wat voorheen saam met die Filistyne was en wat saam met hulle gekom het om oorlog te maak, het nou na die Israeliete toe gekom wat by Saul en Jonatan was.

22. Al die Israeliete wat weggekruip het in die Efraim-berge, het gehoor dat die Filistyne gevlug het. Hulle het ook die Filistyne gevolg en gejaag.

23. Die Here het die Israeliete daardie dag gered. Hulle het oorlog gemaak tot verby die stad Bet-Awen.

24. Toe die manne van Israel daardie dag nader kom, het Saul gewaarsku en gesê: “Ek vervloek die man wat voor vanaand eet, hy sal sterf, want ek wil eers my vyande straf.”Nie een van die manne het toe daardie dag geëet nie.

25. Hulle het in ’n bos gekom, en daar was heuning in die grond.

26. Toe die manne in die bos kom, sien hulle daar drup baie heuning, maar niemand het daarvan geëet nie, want hulle was bang vir wat Saul gesê het.

27. Maar Jonatan het nie gehoor toe sy pa dit vir die manne gesê het nie. Hy het ’n kierie by hom gehad. Hy het die kierie se punt in die heuning gesteek en hy het die heuning afgelek. Hy het dadelik baie beter gevoel.

28. Een van die manne het vir hom gesê: “Jou pa het gesê die manne mag nie vandag eet nie, en die man wat eet, sal sterf. Nou is die manne swak van die honger.”

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 14