Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 14:1-11 Bybel vir Almal (ABA)

1. Eendag het Jonatan seun van Saul vir sy wapendraer gesê: “Kom, ek wil hê ons moet die Filistyne gaan aanval wat daar oorkant wagstaan.”Jonatan het nie vir sy pa vertel wat hy wou doen nie.

2. Saul het onder ’n granaatboom gesit wat in Migron was, naby die stad Gibea. Daar was omtrent 600 manne by hom. Hulle het ook nie geweet dat Jonatan gegaan het nie.

3. Agija het die skouer-kleed aangehad. Hy was die seun van Agitub, die broer van Ikabod. Ikabod was die seun van Pinehas, en Pinehas was die seun van Eli, die priester van die Here in Silo.

4. Jonatan moes oor die bergpas gaan om by die groep Filistyne te kom. Daar was ’n skerp rots langs elke kant van die bergpas. Die naam van die een rots was Boses en die naam van die ander rots was Senne.

5. Die een rots het soos ’n pilaar gestaan, langs die noordekant van die bergpas, naby Mikmas, en die ander rots was langs die suidekant van die bergpas, naby Geba.

6. Jonatan het vir sy wapendraer gesê: “Kom ons gaan op na daardie heidene toe. Miskien sal die Here ons help, want niks kan die Here keer wanneer Hy iemand wil red nie. Hy gebruik baie mense of min mense.”

7. Jonatan se wapendraer het vir hom gesê: “Jy moet alles doen wat jy dink is reg. Gaan, en ek sal doen wat jy doen.”

8. Toe sê Jonatan: “Wanneer ons opgaan na hulle toe, dan moet ons só loop dat hulle ons sien.

9. As hulle vir ons sê: ‘Bly daar, ons kom na julle toe,’ dan moet ons staan waar ons is, ons moenie opgaan na hulle toe nie.

10. Maar as hulle vir ons sê: ‘Kom op na ons toe,’ dan moet ons opgaan, want dit sal vir ons wys dat die Here ons sal laat wen teen hulle.”

11. Jonatan en sy wapendraer het só geloop dat die Filistyne kon sien hulle kom, en die Filistyne het gesê: “Kyk, daar kom Hebreërs uit die gate waar hulle weggekruip het.”

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 14