Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 28:1-8 Bybel vir Almal (ABA)

1. Dawid het al die leiers bymekaargeroep in Jerusalem. Dit was al die leiers van Israel, die stamhoofde, die hoofde van die groepe wat vir die koning gewerk het, die leiers van 1 000 manne en die leiers van 100 manne, die hoofde oor al die goed van die koning en die hoofde oor die koning en sy seuns se skape en bokke. Hy het hulle almal bymekaargeroep saam met die amptenare van die paleis en die spesiale manne van Dawid, en ook al die ander belangrike persone.

2. Koning Dawid het opgestaan en gesê: “My vriende en mense van my volk, luister na wat ek sê. Ek wou ’n tempel bou waar die verbondskis van die Here kan staan, die plek waarop ons God sy voete kan sit. En ek het gereedgemaak om te bou.

3. Maar God het vir my gesê: ‘Jy mag nie vir My ’n tempel bou nie, want jy het oorlog gemaak en jy het mense doodgemaak.’

4. Die Here, die God van Israel, het vir my uit my hele familie gekies om koning van Israel te wees so lank soos ek lewe. Hy het die Juda-stam gekies om die belangrikste stam te wees. Van die Juda-stam het Hy mý familie gekies, en van my pa se seuns het Hy vir mý gekies om koning te wees oor die hele Israel.

5. Die Here het baie seuns vir my gegee, en van daardie seuns het Hy my seun Salomo gekies om op die troon te sit, die troon wat behoort aan die Here, die Koning van Israel.

6. Die Here het vir my gesê: ‘Jou seun Salomo, hý sal vir My die tempel bou met sy oop stukke grond, want Ek het hóm gekies om ’n seun te wees vir My, en Ek sal ’n Vader wees vir hom.

7. Salomo doen nou wat Ek wil hê en wat Ek besluit. As hy aanhou om dit te doen, dan sal Ek hom koning laat wees so lank soos hy lewe.’

8. Julle moet nou vir my iets belowe, hier waar die hele Israel, die volksvergadering van die Here, dit sien, hier waar ons God dit hoor. Julle moet belowe dat julle sal aanhou om alles te doen wat julle God die Here wil hê. As julle dit doen, dan sal hierdie goeie land julle land wees en julle kinders sal die land ná julle erf, vir altyd.

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 28