Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 22:10-17 Bybel vir Almal (ABA)

10. Dit is hý wat die tempel sal bou waar Ek kan woon. Hý sal vir my ’n seun wees en Ek sal vir hom ’n vader wees. Ek sal hom baie lank oor Israel laat regeer.’

11. Daarom, my seun, ek bid dat die Here by jou sal wees en dat dit goed sal gaan met jou, sodat jy die tempel van jou God die Here sal bou, Hy het gesê jý sal dit bou.

12. Ek bid dat die Here jou sal help om dinge te ken en te verstaan, en dat Hy vir jou sal sê hoe jy oor Israel moet regeer. Ek bid dat jy sal doen wat die wette van jou God die Here sê.

13. Dit sal goed gaan met jou as jy kyk dat die Israeliete doen wat die Here gesê het en as hulle doen wat Hy besluit het. Die Here het dit alles vir Moses gesê. My seun, jy moet sterk en dapper wees, jy moenie bang wees nie, jy moenie skrik nie.

14. Kyk, ek het hard gewerk. Ek het 100 000 talente goud en een miljoen talente silwer bymekaargemaak vir die tempel, en ook so baie brons en yster dat ’n mens dit nie kan weeg nie. Ek het ook hout en klip bymekaargemaak, en jy kan nog meer daarby sit.

15. Daar is ook baie werkers wat jy kan gebruik: mense wat klippe kan regkap, ambagsmanne wat met klip en hout kan werk, en mense wat vaardig is om enige werk te doen.

16. Daar is so baie goud en silwer en brons en yster dat ’n mens dit nie kan tel nie. Jy moet nou begin en jy moet die werk laat doen. Ek bid dat die Here by jou sal wees.”

17. Dawid het vir al die amptenare van Israel gesê hulle moet sy seun Salomo help.

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 22