Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 8:49-64 Bybel vir Almal (ABA)

49. dan moet U asseblief luister in u woonplek, die hemel. U moet luister na hulle gebed en U moenie aanhou om hulle te straf nie.

50. U moet asseblief u volk vergewe wat sonde gedoen het teen U. U moet hulle vergewe dat hulle opstandig was teen U, en U moet die mense wat vir hulle gevang het, jammer laat wees vir hulle,

51. want hulle is u eie volk. U het hulle gebring uit Egipte, die plek wat vir hulle soos ’n warm oond was.

52. “Luister asseblief na my gebede en na die gebede van u volk Israel. Luister asseblief na elke gebed wat ons tot U bid, en doen asseblief wat ons vir U vra,

53. want, Here, U wat Here is, U het ons gekies om u volk te wees, U het nie een van die ander volke van die wêreld gekies nie. Dit het gebeur soos U vir ons gesê het toe U vir Moses, u dienaar, gestuur het en toe U ons voorvaders uit Egipte gebring het.”

54. Salomo het voor die altaar gekniel en hy het sy hande na die hemel uitgesteek toe hy tot die Here gebid en gesoebat het.Nadat Salomo klaar tot die Here gebid het, het hy opgestaan

55. en hy het die hele gemeente van Israel gegroet. Hy het hard gepraat en gesê:

56. “Ek prys die Here. Hy het belowe om vir sy volk Israel ’n woonplek te gee, en Hy het dit gedoen. Hy het goeie dinge gesê toe Hy sy dienaar Moses gestuur het, en dit het gebeur.

57. Ek bid dat ons God die Here by ons sal wees soos Hy by ons voorvaders was. Ek bid dat Hy nie sal weggaan van ons nie en dat Hy ons nie sal los nie.

58. Ek bid dat Hy in ons harte sal werk sodat ons Hom graag sal wil dien en sodat ons sal lewe soos Hy wil hê en gehoorsaam sal wees aan al die wette wat Hy vir ons voorvaders gegee het.

59. Ek bid dat ons God die Here elke dag en nag sal dink aan wat ek gesê het toe ek gesoebat het en tot Hom gebid het. Ek bid ook dat Hy sal help sodat mense elke dag reg sal doen aan my en aan sy volk Israel.

60. Dan sal al die volke van die aarde weet die Here is God en daar is nie nog ’n ander God nie.

61. Julle moet lewe soos ons God die Here vir julle in sy wette sê, julle moet Hom dien met julle hele hart, soos julle vandag doen.”

62. Die koning en al die Israeliete saam met hom het vir die Here offers gebring.

63. Salomo het ’n ete-offer gebring. Dit was 22 000 beeste en 120 000 skape en bokke. So het die koning en al die Israeliete die tempel aan die Here gewy.

64. Die koning het daardie dag die middelste deel van die oop stuk grond voor die tempel gewy, want hy het die brand-offer en die koring-offer en die vet van die ete-offers daar verbrand. Hy het dit gedoen omdat die altaar voor die tempel te klein was vir al die offers. Daardie altaar was van brons.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 8