Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 7:19-28-36 Bybel vir Almal (ABA)

19. Die pilare het by die voorportaal gestaan. Die boonste dele van die kapitele het gelyk soos blomme en dit was vier el hoog.

20. Die kapitele was bo-op die pilare. Rondom elke kapiteel, langs die net, waar die blom dikker word, was 200 granate in rye.

21. Hiram het die pilare regop laat staan by die voorportaal van die tempel. Hy het die pilaar by die suidekant Jakin genoem en die pilaar by die noordekant het hy Boas genoem.

22. Nadat hy die blomme bo-op die pilare vasgesit het, was die pilare klaar.

23. Hiram het die waterbak gemaak. Dit was tien el breed, vyf el hoog en 30 el rondom.

24. Onderkant en rondom die rand van die waterbak was twee rye kalbasse, daar was tien kalbasse in elke el. Hiram het die kalbasse saam met die waterbak gemaak.

25. Die waterbak het gestaan op die beelde van twaalf beeste. Die beeste het na buite gekyk, drie na die noorde, drie na die weste, drie na die suide en drie na die ooste.

26. Die kant van die waterbak was ’n handbreedte dik en die rand was soos die rand van ’n beker. Dit het soos ’n blom gelyk. Die waterbak kon 2 000 bat hou.

27. Hiram het tien waentjies van brons gemaak. Elke waentjie was vier el lank, vier el breed en drie el hoog.

28-36. Hiram het die waentjies só gemaak: Op die kante van die waentjies het hy leeus en beeste en gerubs uitgesny. Bo en onder die leeus en die beeste het hy kransies uitgesny. Hy het vir elke waentjie vier wiele van brons gemaak. Die vier wiele was onder die kante van die waentjies en die asse van die wiele was onder die waentjies. Elke wiel was een en ’n halwe el hoog. Die wiele het gelyk soos die wiele van ’n wa en hulle was heeltemal van brons. Die asse was ook van brons en dit was vas aan die vier voetstukke. Bo-op die waentjies was kassies, die was-skottels het daarin gepas. Daar was kransies langs die kante van die kassies. Die kassies was een el hoog, en die gat waarin die was-skottel moes kom, was een en ’n halwe el breed. Rondom die gat was daar graveerwerk en ’n band wat ’n halwe el hoog was. Die kante van die kassies was vierkantig, dit was nie rond nie. Daar was handvatsels aan elke hoek, en op die kante van die kassies en op die handvatsels het Hiram gerubs en leeus en palmbome uitgesny.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 7