Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 7:10-19 Bybel vir Almal (ABA)

10. Hulle het ook spesiale en groot klippe gebruik om die fondamente te bou. Party klippe was tien el lank en party was ag el lank.

11. Die mure bo-op die fondamente was van duur klip en sederhout.

12. Die muur rondom die groot oop stuk grond was van drie rye klippe opmekaar en dan een ry sederhout. Die mure van die binneste oop stuk grond by die tempelgebou en die voorportaal van die tempel was ook so.

13. Koning Salomo het vir Hiram uit Tirus laat haal.

14. Hiram was die seun van ’n weduwee van die Naftali-stam. Sy pa was ’n man van die stad Tirus. Hiram was ’n ambagsman wat met brons kon werk. Hy was vaardig en hy het geweet hoe om al die werk met brons te doen. Hiram het na koning Salomo toe gekom en hy het al sy werk gedoen.

15. Hy het die twee brons-pilare gemaak. Elke pilaar was 18 el hoog en dit was twaalf el rondom.

16. Hy het twee kapitele gemaak om bo-op die pilare te sit. Die kapitele was van brons en elke kapiteel was vyf el hoog.

17. Hy het rondom elke kapiteel ’n net gemaak, hy het dit gevleg, en op elke net het hy sewe kettings vasgesit.

18. Hy het ook op elke net twee rye granate vasgesit.

19. Die pilare het by die voorportaal gestaan. Die boonste dele van die kapitele het gelyk soos blomme en dit was vier el hoog.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 7