Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 22:19-30 Bybel vir Almal (ABA)

19. Miga het toe weer gepraat: “Luister wat sê die Here. Ek het gesien die Here sit op sy troon en almal wat in die hemel is, staan by Hom, hulle staan regs en links langs Hom.

20. En die Here het gesê: ‘Vir wie kan Ek stuur om vir Agab te bedrieg? Daardie een moet sê Agab moet na Ramot in Gilead gaan, Ek wil hê Agab moet daar sterf.’“Almal wat in die hemel is, het daaroor met mekaar gepraat,

21. en toe kom een van hulle en hy gaan staan voor die Here en hy sê: ‘Ek sal hom bedrieg.’“Toe vra die Here vir hom: ‘Hoe sal jy dit doen?’

22. en hy sê: ‘Ek sal gaan en ek sal ’n leuengees word. Ek sal vir al die profete sê om leuens te vertel vir koning Agab.’ Die Here het gesê: ‘Jy sal hom bedrieg, jy sal dit regkry. Gaan doen dit.’

23. Koning, daarom moet jy dit weet: Die Here het ’n leuengees laat kom in die mond van al hierdie profete van jou. Maar weet jy wat die Here regtig gesê het? Die Here het gesê dit sal sleg gaan met jou.”

24. Toe kom Sedekia seun van Kenaäna nader en hy slaan vir Miga op sy kakebeen en hy vra: “Dink jy die gees wat van die Here gekom het, het weggegaan van my om met jóú te praat?”

25. Miga het vir Sedekia gesê: “Jy sal dit sien daardie dag wanneer jy van een kamer na die ander kamer gaan om te probeer wegkruip.”

26. Toe sê die koning van Israel: “Vat vir Miga na Amon die burgemeester en na prins Joas toe

27. en sê vir hulle die koning sê: ‘Julle moet hierdie man in die tronk sit en julle moet vir hom min kos en water gee totdat ek veilig terugkom.’ ”

28. Miga sê toe: “Koning Agab, as jy regtig veilig sal terugkom, dan kom die woorde wat ek gesê het, nie van die Here nie.”Miga het ook gesê: “Manne, julle moet almal luister na wat ek sê.”

29. Die koning van Israel en koning Josafat van Juda het gegaan na die stad Ramot in Gilead.

30. Die koning van Israel het vir Josafat gesê: “Ek sal ander klere aantrek sodat mense nie sal weet wie ek is nie en dan sal ek saam met die manne oorlog begin maak. Jy moenie jou koningsklere uittrek nie.”Die koning van Israel het toe ander klere aangetrek en hy het saam met die manne oorlog begin maak.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 22