Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 18:27-39 Bybel vir Almal (ABA)

27. Toe dit middag word, het Elia hulle gespot en gesê: “Julle moet harder skree, want Baäl is ’n god. Miskien is hy besig om te dink, of miskien is hy in die toilet, of miskien het hy gaan stap. Miskien slaap hy en iemand moet hom gaan wakker maak.”

28. Die profete het hard geskree en hulle het gedoen wat hulle altyd gedoen het wanneer hulle ge-offer het: Hulle het hulleself stukkend gesny met swaarde en spiese totdat hulle rooi van die bloed was.

29. Die middag het verbygegaan. Hulle het aangehou bid tot laat die middag. Dit was die tyd wanneer die priesters altyd die koring-offer gebring het. Maar daar het niks gebeur nie, niemand het geantwoord nie, Baäl het nie gehoor nie.

30. Toe het Elia vir al die mense gesê: “Kom nader na my toe.”Hulle het nader gekom. Elia het die altaar van die Here wat stukkend was, weer reggemaak.

31. Hy het twaalf klippe geneem, een vir elke stam, die nageslag van die seuns van Jakob. Jakob was die man vir wie die Here gesê het: “Jou naam sal Israel wees.”

32. Elia het die klippe in die altaar van die Here ingebou. Rondom die altaar het Elia ’n sloot gegrawe. Die sloot was so diep dat dit twee sea saad kon hou.

33. Daarna het hy die hout reggesit en die bul in stukke gesny en bo-op die hout gesit.

34. Toe sê Elia: “Julle moet vier kruike vol water maak en dit oor die brand-offer en die hout uitgooi.”Elia het gesê hulle moet dit weer doen, en toe ook ’n derde maal.

35. Die water het oor die altaar geloop en dit het ook die sloot volgemaak.

36. Laat die middag, toe dit tyd was om die koring-offer te bring, het die profeet Elia by die altaar gaan staan en hy het gesê: “Here, God van Abraham, Isak en Israel, laat almal vandag sien dat U die God in die land Israel is. Laat almal ook sien dat ek u dienaar is, en dat dit U is wat vir my gesê het ek moet al hierdie dinge doen.

37. Antwoord my, Here, antwoord my, sodat hierdie mense kan weet dat U, die Here, God is, en dat dit U is wat hulle harte verander.”

38. Daar het toe vuur van die Here afgekom. Dit het die brand-offer en die hout en die klippe en die grond alles verbrand. Daar was nie meer water in die sloot nie, die sloot het droog geword.

39. Toe die mense dit sien, het hulle almal gebuig, hulle gesigte was teen die grond. Hulle het gesê: “Die Here, Hy is God! Die Here, Hy is God!”

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 18