Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 15:16-26 Bybel vir Almal (ABA)

16. Daar was altyd oorlog tussen Asa en Baesa, koning van Israel.

17. Baesa, koning van Israel, het vir Juda aangeval en hy het die stad Rama gebou en sterk gemaak, want hy wou keer sodat mense nie na koning Asa toe kan gaan en weer kan terugkom nie.

18. Asa het toe al die silwer en die goud geneem wat nog in die tempel en in die paleis was, en hy het dit vir boodskappers gegee om dit na Ben-Hadad te neem. Ben-Hadad was die seun van Tab-Rimmon seun van Gesjon, en hy was die koning van die Arameërs. Asa het vir hom hierdie boodskap gestuur:

19. “Daar was ’n ooreenkoms tussen jou pa en my pa. So moet ek en jy ook ’n ooreenkoms maak. Ek stuur vir jou hierdie present, die silwer en die goud. Jy moet nou jou ooreenkoms met Baesa breek, dan sal hy weggaan uit my land.”

20. Ben-Hadad het gedoen wat koning Asa gevra het en hy het die hoofde van sy leër gestuur om die stede van Israel aan te val. Hulle het die stede Ijon, Dan, Abel en Bet-Maäka oorwin, en ook al die plekke in Gennesaret en die land Naftali.

21. Toe Baesa dit hoor, het hy opgehou om die stad Rama te bou en sterk te maak, en hy het na die stad Tirsa teruggegaan.

22. Koning Asa het al die mense van Juda laat roep. Hulle moes almal kom. Hulle het die klippe en die hout weggedra wat Baesa wou gebruik om die stad Rama te bou. Koning Asa het die stad Geba in die land Benjamin en die stad Mispa gebou met daardie klippe en hout.

23. Al die ander dinge wat Asa gedoen het, ook die belangrike dinge en die stede wat hy gebou het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Juda. Toe hy oud was, het hy siek geword, sy voete was baie seer.

24. Hy het gesterf, en hulle het hom begrawe in die stad van sy voorvader Dawid. Asa se seun Josafat het koning geword ná hom.

25. Nadab seun van Jerobeam het koning van Israel geword in die tweede jaar nadat Asa koning van Juda geword het. Nadab was twee jaar lank koning van Israel.

26. Hy het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie. Sy pa Jerobeam het die mense van Israel sonde laat doen, en Nadab het dieselfde gedoen, hy het dieselfde sondes gedoen wat sy pa gedoen het.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 15