Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 15:11-21 Bybel vir Almal (ABA)

11. Asa het dinge gedoen waarvan die Here hou, soos sy voorvader Dawid ook gedoen het.

12. Asa het die tempel-prostitute uit die land laat wegjaag en hy het al die afgode laat wegvat wat sy voorvaders gemaak het.

13. Hy het ook gesê sy ouma Maäka sal nie meer belangrik wees omdat sy ’n koning se ma is nie, want sy het ’n beeld laat maak van die godin Asjera. Asa het die beeld laat afkap en hy het dit laat verbrand in die Kedron-vallei.

14. Die offer-plekke was nog daar, maar Asa het die Here met sy hele hart gedien terwyl hy gelewe het.

15. Hy het die wydingspresente van sy pa, en ook sy eie wydingspresente in die tempel gesit. Dit was goud, silwer en gereedskap.

16. Daar was altyd oorlog tussen Asa en Baesa, koning van Israel.

17. Baesa, koning van Israel, het vir Juda aangeval en hy het die stad Rama gebou en sterk gemaak, want hy wou keer sodat mense nie na koning Asa toe kan gaan en weer kan terugkom nie.

18. Asa het toe al die silwer en die goud geneem wat nog in die tempel en in die paleis was, en hy het dit vir boodskappers gegee om dit na Ben-Hadad te neem. Ben-Hadad was die seun van Tab-Rimmon seun van Gesjon, en hy was die koning van die Arameërs. Asa het vir hom hierdie boodskap gestuur:

19. “Daar was ’n ooreenkoms tussen jou pa en my pa. So moet ek en jy ook ’n ooreenkoms maak. Ek stuur vir jou hierdie present, die silwer en die goud. Jy moet nou jou ooreenkoms met Baesa breek, dan sal hy weggaan uit my land.”

20. Ben-Hadad het gedoen wat koning Asa gevra het en hy het die hoofde van sy leër gestuur om die stede van Israel aan te val. Hulle het die stede Ijon, Dan, Abel en Bet-Maäka oorwin, en ook al die plekke in Gennesaret en die land Naftali.

21. Toe Baesa dit hoor, het hy opgehou om die stad Rama te bou en sterk te maak, en hy het na die stad Tirsa teruggegaan.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 15