Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 13:1-11 Bybel vir Almal (ABA)

1. Toe Jerobeam op die altaar klim om te offer, het ’n man van God daar in Bet-El aangekom. Die man van God het van die land Juda gekom. Die Here het die man gestuur. Jerobeam het op die altaar gestaan om te offer,

2. en die man van God het met die altaar gepraat. Hy het ’n boodskap van die Here gebring en gesê: “Altaar, altaar, die Here sê: ‘Luister na wat Ek sê: Daar sal ’n seun gebore word in die koningshuis van Dawid. Sy naam sal Josia wees. Die priesters van die offer-plekke brand wierook op jou, maar Josia sal daardie priesters hier op jou offer, en hulle sal mense se bene op jou verbrand.’ ”

3. Die man van God het daardie dag gesê die Here sal hierdie teken gee: Die altaar sal oopbars, en die as sal op die grond val.

4. Toe koning Jerobeam hoor wat die man van God sê van die altaar in Bet-El, het hy sy hand uitgesteek van bo-op die altaar en hy het gesê: “Gryp hom!”Maar die hand wat hy uitgesteek het, het styf geword. Hy kon dit nie terugtrek nie.

5. Die altaar het oopgebars, en die as het op die grond geval. Dit was die teken van die Here soos die man van God gesê het.

6. Die koning het vir die man van God gesê: “Praat asseblief mooi met jou God die Here en bid vir my sodat ek my hand kan terugtrek.”Die man van God het dit gedoen, en die koning se hand was weer reg. Dit was weer soos dit voorheen was.

7. Die koning sê toe vir die man van God: “Kom eet saam met my, ek wil vir jou ’n present gee.”

8. Maar die man van God het vir die koning gesê: “Ek sal nie saam met jou kom nie, ook nie as jy die helfte van jou paleis vir my gee nie. En ek sal nie in hierdie plek eet of drink nie,

9. want die Here het vir my gesê: ‘Jy moenie daar eet of drink nie en jy moenie op dieselfde pad terugkom nie.’ ”

10. Die man van God het op ’n ander pad teruggegaan. Hy het nie teruggegaan op die pad waarop hy na Bet-El gekom het nie.

11. Daar het ’n ou profeet in Bet-El gewoon. Sy seuns het vir hom kom vertel wat die man van God daardie dag in Bet-El gedoen het en wat hy vir die koning gesê het.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 13