Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 12:20-25 Bybel vir Almal (ABA)

20. Toe al die mense van Israel hoor dat Jerobeam teruggekom het, het hulle hom laat roep na die vergadering van die leiers en hulle het hom koning gemaak van al die mense van Israel. Niemand het by die koningshuis van Dawid gebly nie, net die mense van die Juda-stam het by Rehabeam gebly.

21. Rehabeam het na Jerusalem gekom en hy het al die manne van die Juda-stam en die Benjamin-stam bymekaargeroep. Hulle was 180 000 soldate wat hy spesiaal gekies het. Rehabeam seun van Salomo wou oorlog maak teen die mense van Israel, hy wou probeer om die land terug te kry.

22. Maar God het vir Semaja, ’n man van God, gesê:

23. “Jy moet praat met Rehabeam seun van Salomo, koning van Juda, en met die hele Juda-stam en die Benjamin-stam en die ander mense. Jy moet vir hulle sê:

24. Die Here sê: Julle moenie gaan oorlog maak teen julle broers, die mense van Israel, nie. Julle moet teruggaan, elkeen na sy huis, want dit is Ek wat alles laat gebeur het.”Hulle het geluister na die boodskap van die Here en hulle het teruggegaan soos Hy gesê het.

25. Jerobeam het die stad Sigem in die Efraim-berge weer gebou en hy het daar gaan woon. Hy het later daar weggegaan en hy het die stad Pniël gaan bou.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 12