Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 1:28-43 Bybel vir Almal (ABA)

28. Koning Dawid het geantwoord en gesê: “Gaan roep vir Batseba en sê sy moet hier voor my kom staan.”

29. Die koning het toe belowe en gesê: “So seker soos die Here lewe, die Here wat elke maal my lewe gered het toe dit vir my gevaarlik was,

30. ek hét vir jou belowe dat jou seun Salomo koning sal word ná my en dat hy in my plek op my troon sal sit. Ek het toe gesê my God die Here moet die getuie wees, en ek belowe dit vandag weer.”

31. Batseba het gekniel met haar gesig teen die grond en sy het voor die koning gebuig en gesê: “Ek bid dat Meneer die koning Dawid vir altyd sal lewe.”

32. Daarna het koning Dawid gesê: “Gaan roep die priester Sadok en die profeet Natan en Benaja seun van Jojada, en sê hulle moet voor my kom staan.”

33. Die koning het toe vir hulle gesê: “Julle moet die manne saamneem wat die koning moet oppas en julle moet my seun Salomo op my eie muil laat ry. Julle moet hom na die Gihon-fontein bring.

34. Daar moet die priester Sadok en die profeet Natan hom salf om koning te wees oor Israel. Dan moet julle die ramshoring blaas en sê: ‘Ons bid dat koning Salomo lank sal lewe!’

35. Julle moet saam met hom kom, en hy moet op my troon kom sit en koning wees in my plek. Ek het gesê dit is hý wat moet regeer oor Israel en oor Juda.”

36. Benaja seun van Jojada het vir die koning gesê: “Ons sal doen wat jy gevra het. Ek bid dat die Here, die God van Meneer die koning, dit sal laat gebeur.

37. Ek bid dat die Here by Salomo sal wees soos Hy by Meneer die koning was. Ek bid ook dat die troon van Salomo belangriker sal word as die troon van Meneer die koning Dawid.”

38. Die priester Sadok en die profeet Natan en Benaja seun van Jojada en die Filistynse manne wat die koning moes oppas, het gegaan en hulle het vir Salomo op koning Dawid se muil laat ry. Hulle het hom na die Gihon-fontein geneem.

39. Die priester Sadok het die horing en olyf-olie uit die gewyde tent saamgebring en hy het vir Salomo gesalf. Toe blaas hulle die ramshoring, en al die manne sê: “Ons bid dat die koning lank sal lewe!”

40. Al die mense het saam met Salomo gegaan. Hulle het fluite geblaas en hulle was baie bly. Hulle het so hard geskree dat die aarde gebewe het.

41. Adonia en al die gaste wat hy genooi het, het klaar geëet en hulle het gehoor dat die mense skree. Toe Joab hoor hulle blaas die ramshoring, het hy gevra: “Hoekom raas die mense so in die stad?”

42. Terwyl Joab gepraat het, het Jonatan seun van die priester Abjatar daar aangekom. Adonia het gesê: “Kom nader, jy is ’n belangrike man en jy sal goeie nuus bring.”

43. Jonatan het geantwoord en vir Adonia gesê: “Nee, dit is nie goeie nuus vir jou nie. Ons meneer die koning Dawid het vir Salomo koning gemaak.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 1