Ou Testament

Nuwe Testament

Titus 1:4-10 Bybel vir Almal (ABA)

4. Ek, Paulus, skryf hierdie brief vir jou, Titus. Jy is vir my soos my eie kind, omdat ons saam in Christus glo. Ek bid dat God die Vader en Christus Jesus ons Redder genadig sal wees vir jou en dat Hy ook vir jou vrede sal gee.

5. Weet jy hoekom ek gesê het jy moet op die eiland Kreta bly? Dit is sodat jy al die dinge kan doen wat ek nie gedoen het nie. Jy moet ook in elke stad ouderlinge kies en aanstel. Ek het vir jou gesê hoe jy dit moet doen.

6. Niemand moet oor hulle kan praat en sê dat ’n ouderling verkeerde dinge doen nie. ’n Ouderling moet net een vrou hê, en sy kinders moet gelowiges wees. Mense moenie oor hulle kan praat en sê dat die kinders wild lewe en verkeerde en slegte dinge doen en ongehoorsaam is nie.

7. ’n Ouderling werk vir God, daarom moet niemand oor hom kan praat en sê dat hy verkeerde dinge doen nie. Hy moenie dink dat hy beter is as ander mense nie, hy moenie gou kwaad word nie, hy moenie te veel drink en dan dronk word nie, hy moenie daarvan hou om te baklei nie, en hy moenie altyd meer goed wil hê nie.

8. Nee, hy moet goed wees vir vreemdelinge, hy moet daarvan hou om goeie dinge te doen, hy moet weet hoe om reg te lewe, hy moet doen wat reg is, hy moet aan God gewy wees en hy moenie sy humeur verloor en kwaad word nie.

9. ’n Ouderling moet aanhou om die boodskap te glo, die boodskap wat waar is en wat dieselfde is as die boodskap wat die apostels vir hom geleer het. Dan sal hy vir mense kan bemoedig. En wanneer mense ander dinge sê as die dinge wat ons vir hulle geleer het, dan sal hy ook vir hulle kan sê dat hulle verkeerd is.

10. Daar is baie mense wat opstandig is, hulle praat oor dinge wat niks beteken nie en hulle wil hê die mense moet dit glo. Baie van die mense wat so praat, is Jode wat nou in Christus glo.

Lees volledige hoofstuk Titus 1