Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 6:6-14 Bybel vir Almal (ABA)

6. Ons weet dat ons ook gekruisig is toe Christus gekruisig is. Ons was mense wat graag sonde gedoen het, maar nou is ons nie meer so nie. Ja, ons is nie meer slawe van die sonde nie,

7. want God het almal vrygespreek wat saam met Christus gesterf het.

8. Christus het gesterf, en ons het saam met Hom gesterf. Daarom glo ons dat God vir Christus weer laat lewe het en dat ons ook saam met Christus sal lewe.

9. Ja, God het vir Christus weer laat lewe, en ons weet dat Christus nooit weer sal sterf nie, want die dood is nie sterker as Hy nie.

10. Hy het een maal gesterf, Hy kan nie weer sterf nie. Die sonde kan Hom nie oorwin nie, nooit nie. Hy lewe en Hy lewe nou vir God.

11. Dit is dieselfde met julle: Julle moet weet dat die sonde ook nie vir julle kan oorwin nie, want julle is vir die sonde soos mense wat dood is. Maar nou lewe julle vir God, julle wat aan Christus Jesus behoort.

12. Julle is vir die sonde soos mense wat dood is. Daarom moet julle nie tevrede wees dat die sonde oor julle liggame regeer nie, dit is liggame wat sal sterf. Ja, julle moenie die slegte dinge doen wat julle wil doen nie.

13. Julle moenie julle liggame gebruik om verkeerde dinge te doen nie, julle moenie die sonde dien nie. Nee, julle moet julle liggame gebruik om God te dien, want julle was dood, maar God het julle weer laat lewe. God het julle vrygespreek, daarom moet julle julle liggame gebruik om te doen wat reg is.

14. Die sonde sal nie oor julle regeer nie, want dit is nie die wette wat oor julle regeer nie, dit is die genade van God wat oor julle regeer.

Lees volledige hoofstuk Romeine 6