hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 6 Bybel vir Almal (ABA)

Sonde kan ons nie oorwin nie

1. Wanneer ons sê ons moet aanhou sonde doen sodat God se genade meer kan word, is ons dan reg?

2. Nee, nooit nie! Die sonde kan ons nie oorwin nie, ons is vir die sonde soos mense wat dood is. Daarom mag ons nie aanhou sonde doen nie.

3. Julle moet dit weet: Ons is almal gedoop en ons behoort nou aan Christus Jesus. Hy het gesterf, en ons het saam met Hom gesterf.

4. Ja, ons is gedoop, en daarom kan ons sê ons het saam met Christus gesterf en ons was saam met Hom in die graf. God, die Vader en Koning, het vir Christus weer laat lewe. So laat God ons ook lewe, ons is soos mense wat ’n nuwe lewe gekry het.

5. Christus het gesterf, en ons het soos Hy gesterf, want Hy en ons het een geword. En God het vir Christus weer laat lewe. Christus en ons het een geword, en daarom weet ons dat God vir ons ook weer saam met Christus sal laat lewe.

6. Ons weet dat ons ook gekruisig is toe Christus gekruisig is. Ons was mense wat graag sonde gedoen het, maar nou is ons nie meer so nie. Ja, ons is nie meer slawe van die sonde nie,

7. want God het almal vrygespreek wat saam met Christus gesterf het.

8. Christus het gesterf, en ons het saam met Hom gesterf. Daarom glo ons dat God vir Christus weer laat lewe het en dat ons ook saam met Christus sal lewe.

9. Ja, God het vir Christus weer laat lewe, en ons weet dat Christus nooit weer sal sterf nie, want die dood is nie sterker as Hy nie.

10. Hy het een maal gesterf, Hy kan nie weer sterf nie. Die sonde kan Hom nie oorwin nie, nooit nie. Hy lewe en Hy lewe nou vir God.

11. Dit is dieselfde met julle: Julle moet weet dat die sonde ook nie vir julle kan oorwin nie, want julle is vir die sonde soos mense wat dood is. Maar nou lewe julle vir God, julle wat aan Christus Jesus behoort.

Gelowiges moet vir God dien

12. Julle is vir die sonde soos mense wat dood is. Daarom moet julle nie tevrede wees dat die sonde oor julle liggame regeer nie, dit is liggame wat sal sterf. Ja, julle moenie die slegte dinge doen wat julle wil doen nie.

13. Julle moenie julle liggame gebruik om verkeerde dinge te doen nie, julle moenie die sonde dien nie. Nee, julle moet julle liggame gebruik om God te dien, want julle was dood, maar God het julle weer laat lewe. God het julle vrygespreek, daarom moet julle julle liggame gebruik om te doen wat reg is.

14. Die sonde sal nie oor julle regeer nie, want dit is nie die wette wat oor julle regeer nie, dit is die genade van God wat oor julle regeer.

15. Ja, die wette regeer nie oor ons nie, die genade van God regeer oor ons. Kan ons nou sê ons mag aanhou sonde doen? Nee, nooit nie!

16. Julle moet dit weet: Wanneer julle doen wat ander mense vir julle sê, dan is julle soos slawe. Maar wanneer julle doen wat die sonde sê, dan is julle slawe van die sonde, en dan sal God julle vir altyd laat sterf. Wanneer julle doen wat God vir julle sê, dan is julle slawe van God, en dan sal God julle vryspreek.

17. Ek sê vir God dankie, want julle was voorheen slawe van die sonde, maar nou is dit vir julle lekker om die dinge te doen wat julle geleer het.

18. Die sonde regeer nie oor julle nie, God het julle vrygemaak van die sonde, en nou is julle God se slawe en julle doen nou wat reg is.

19. Ek weet dit is nie maklik om te verstaan wat ek vir julle sê nie, en daarom gaan ek dit nou vir julle só verduidelik: Voorheen was julle slawe van die sonde, julle het julle liggame gebruik om meer en meer slegte dinge te doen, dinge wat teen God se wette is. Maar God het julle vrygespreek, julle is nou God se slawe. Daarom moet julle nou julle liggame gebruik om die regte dinge te doen. Dan sal julle heeltemal aan God gewy wees.

20. Toe julle slawe van die sonde was, het die sonde oor julle regeer. Julle het nie gedoen wat God wil hê nie.

21. Maar dit was nie goed vir julle nie. Julle het dinge gedoen waaroor julle nou skaam is. As julle aangehou het om daardie dinge te doen, dan sou God julle vir altyd laat sterf het.

22. Maar nou het God julle vrygemaak van die sonde, en julle is God se slawe. Julle dien nou vir God en julle sal iets kry wat goed is: God sal julle heeltemal aan Hom wy en Hy sal vir julle die ewige lewe gee.

23. As mense slawe van die sonde is, dan sal God hulle vir altyd laat sterf. Maar God is goed vir ons, Hy sal vir ons die ewige lewe gee, vir ons wat behoort aan Christus Jesus, ons Here.